Eochaid

Eochaid
Koning van Skotland (betwis)'
Bewind 878-889?
Volle naam Eochaid mac Run
Gebore Omstreeks 860
Gesterf Ná 889
Voorganger Áed
Opvolger Donald II
Vader Run, koning van Strathclyde

Eochaid (volle naam: Eochaid mac Run; omstreeks 860 – ná 889) was moontlik van 878 tot 889 koning van Skotland. Hy was ’n seun van Run, koning van Strathclyde, en sy ma kon ’n dogter gewees het van Kenneth MacAlpin. Hy het vermoedelik saam met Giric regeer.

Bewyse van Eochaid se bewind word in die Kronieke van die Konings van Alba gevind, waar gesê word:

En Eochodius, seun van Run, koning van die Britte, kleinseun van Kenneth deur sy dogter, het 11 jaar lank regeer; hoewel ander sê Ciricium (Giric), die seun van iemand anders, het in dié tyd regeer, want hy het Eochaid se pleegpa en beskermer geword.

En in sy tweede jaar het Aed, seun van Niall, gesterf.

En in sy negende jaar, op die dag van sint Cirici (Cyrus), het ’n sonsverduistering plaasgevind. Eochaid en sy pleegpa is toe uit die koninkryk verban.

Dit is min af meer al wat bekend is van Eochaid se bewind. Die dood van Aed, seun van Niall Caille, word geraam op 20 November 879 en die sonsverduistering op 16 Junie 885. Die woorde "ander sê" dui daarop dat daar in dié tyd al verwarring oor Eochaid was.

Sommige weergawes van die Kronieke van die Konings van Alba sluit Eochaid uit, en die Duan Albanach laat hom en Giric albei uit (Áed word gevolg deur Donald II, seun van Konstantyn I). Die Duan sluit egter ook sommige vroeëre konings uit en dit is nie seker of dit per ongeluk of met opset is nie. Sommige geleerdes meen Giric het wel regeer, maar nie Eochaid nie. Laasgenoemde se inskrywing in die Kronieke kan byvoorbeeld verwyder word sonder dat dit aan die leesbaarheid verskil maak, maar nie Giric s’n nie – dit noem Giric se naamdag as die dag waarop die sonsverduistering plaasgevind het.

Daar is dus geen konsensus oor of Eochaid koning van Skotland, koning van Strathclyde of glad nie koning was nie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne