Espressomasjien

Elektra-espressomasjien in die toonvenster van 'n winkel in Treviso. Die onderneming het sy setel in Dosson de Casier, provinsie Treviso

'n Espressomasjien is 'n toestel waarmee koffie, espresso en ander koffiespesialiteite vinnig geset kan word. Tradisioneel is koffie as filterkoffie gemaak deur kookwater op gemaalde koffiebone te gooi en deur 'n filter te laat syg. Espressomasjiene lei water teen 'n hoë druk deur die koffiepoeier en is sodoende in staat om koffieolie - 'n plantolie wat in vars en geroosterde koffiebone voorkom - optimaal te ekstraheer. Die perfekte ekstraksieproses bepaal die geur van koffie en espresso en is daarnaas 'n belangrike bestanddeel van die crema, die goue skuim bo-op espresso.

Futuristiese skilderkuns verbind die dinamisme van die moderne stedelike lewe met espressokultuur[1]
Umberto Boccioni: Rissa in galleria. Olie op doek (1910)
'n Romantiserende uitbeelding van stoomkrag as aandrywer vir lokomotiewe en espressomasjiene: Advertensieplakkaat vir Pier Teresio Arduino se espressomasjien Victoria Arduino (1922)
Ontwerp: Leonetto Cappiello (1875–1942)

Espresso en espressomasjiene het hul oorsprong in die industriële en middelklaskultuur van Noord-Italië. Interessant genoeg het Noord-Italianers voortgegaan om die 19de eeuse stoomgebaseerde tegnologie van koffie- en espressobereiding verder te ontwikkel wat in die meeste ander lande laat vaar is ten gunste van alternatiewe metodes. In elk geval stel Italiaanse advertensiekuns vanaf die vroeë 1920's espresso as 'n simbool vir die vinnige pas van die moderne stedelike lewe en vir energie voor, soos in die vervaardiger Victoria Arduino se befaamde plakkaat van 1922 waar stoomkrag romantiserend as kragbron vir sowel lokomotiewe asook espressomasjiene uitgebeeld word.[2] Die ontwerp van Italiaanse espressomasjiene toon in hierdie periode inderdaad dikwels ooreenkomste met lokomotiewe.

  1. Kenneth Davids: Espresso: Ultimate Coffee. 2nd edition. First eBook edition. New York, NY: St. Martin's Press 2013
  2. Victoria Arduino: Storia. Besoek op 9 Julie 2020

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne