Die Excelsior-projek was 'n reeks hoë vryvalspronge deur kaptein (later kolonel) Joseph Kittinger van die Amerikaanse Lugmag in 1959 en 1960. Die doel van die projek was om die Beaupre-meertrappige valskermstelsel te toets. Tydens een van die spronge het Kittinger die wêreldrekord vir die hoogste valskermsprong opgestel, asook die rekords vir die langste valskermvryval en die vinnigste vryval. Twee van dié rekords is eers 52 jaar later deur Felix Baumgartner van die Red Bull Stratos-projek in 2012 verbeter.