Ezemvelo KZN-Natuurlewe is 'n regeringsorganisasie wat verantwoordelik is vir die bewaring van die natuur en biodiversiteit in die KwaZulu-Natal-provinsie van Suid-Afrika. Hul hoofkwartier is in Queen Elizabeth Park geleë op die noordelike hange van Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal se provinsiale hoofstad.
In 1947 is die Natalse Parke, Wild- en Visbewaringsraad gestig deur wetgewing wat betrekking het op die natuurlewe in Natal en Zoeloeland, destyds 'n enkele provinsie van Suid-Afrika bekend as Natal. Die naam van die organisasie is later vereenvoudig tot die Natalse Parkeraad, tot in 1994.
In 1982 het dr. Mangosuthu Buthelezi die KwaZulu Buro van natuurlike hulpbronne en later die KwaZulu Departement van Natuurbewaring op die been gebring, wat bewaringsgebiede bestuur het in die voormalige KwaZulu-tuisland.
Aan die einde van apartheid het die Natalse Parkeraad en KwaZulu Departement van Natuurbewaring tot 'n enkele organisasie saamgesmelt, wat uiteindelik geheet het die KwaZulu-Natal Natuurbewaringsdiens. Later is die naam verander na Ezemvelo KZN-Natuurlewe.