F.P. van Heerden

F.P. van Heerden, ook bekend as oom Pietie.

Floris Petrus Albertus van Heerden (noemnaam oom Pietie, distrik Steynsburg, Kaapkolonie, 23 Junie 1898Bethlehem, Oranje-Vrystaat, 8 Oktober 1978) was ’n Suid-Afrikaanse bouaannemer en later ook ontwerper van veral NG kerke. Hy het reeds in Mei 1954 die eerste sooi van sy 50ste kerkgebou omgekeer, tot in daardie stadium almal in die destydse Transvaal, Kaapland en Oranje-Vrystaat, hoewel ’n kerksaal op Vryheid deur hom indertyd ook in aanbou was. Toe reeds het hy ses ander kerksale en sewe pastorieë agter sy naam gehad het. Sy personeel het destyds drie kantoorwerkers en 60 buite-werkers getel. Tot en met sy dood het hy 74 nuwe kerke gebou, 10 herstel, en 11 kerksale en nege pastorieë opgerig. Van die 74 kerke het hy 49 self ontwerp, hoewel hy nooit opleiding as argitek gehad het nie. Buiten jare lange kerkraadslid van die NG gemeente Germiston-Suid, het hy ook baie jare in die Kommissie vir Kerkbou in Transvaal gedien.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne