FRELIMO

Frente de Libertação de Moçambique
FRELIMO
Logo van die betrokke party.
Vlag van die FRELIMO

Leier Filipe Nyusi
Slagspreuk Eenheid, kritiek, eenheid[1]
Gestig 25 Junie 1962 (1962-06-25) (62 jaar oud)
Samesmelting van MANU, UDENAMO and UNAMI
Hoofkwartier Dar-es-Salaam, Tanzanië (1962–1975)
Maputo, Mosambiek (1975–hede)
Jeugvleuel Mosambiekse Jeugorganisasie
Ideologie Demokratiese sosialisme
Internasionale affiliasie Sosialistiese Internasionaal
Voormalige Bevrydingsbewegings van Suider-Afrika
Amptelike kleure      Rooi
Webblad www.frelimo.org.mz

FRELIMO (Portugees: Frente de Libertação de Moçambique, d.w.s. "Bevrydingsfront van Mosambiek") is die belangrikste politieke party in Mosambiek. Die party is sedert onafhanklikwording in 1975 aan bewind in die land. Die magsbasis daarvan is hoofsaaklik gesetel onder die Sjangaans in Mosambiek.

FRELIMO is in 1962 in Dar-es-Salaam gestig as 'n bevrydingsfront wat die Portugese regering van Mosambiek teengestaan het. Medestigter Eduardo Mondlane was die eerste voorsitter van FRELIMO. FRELIMO was in die beginjare 'n samesmelting van die bevrydingsbewegings:

  • UDE-NAMO – União Democrática Nacional de Moçambique (Nasionale Demokratiese Unie van Mosambiek);
  • MANU – Mozambique African National Union (Mosambiekse Afrika-nasionale Unie)
  • UMANI – União Nacional Africana para Moçambique Independente (Afrika-nasionale Unie vir die Onafhanklikheid van Mosambiek).
'n FRELIMO-optog in Maputo, 2014

In 1963 was die hoofkwartier in Dar-es-Salaam (Tanzanië) geleë. FRELIMO het 'n guerrilla-stryd teen die Portugese kolonialisme begin wat bekend staan as die Mosambiekse Vryheidsoorlog. Sedert 1964 het FRELIMO die noorde van die land beheer. Die beweging het steun van sowel die Westerse wêreld as die Sowjetunie ontvang. In 1969 is die gematigde Mondlane by die FRELIMO-hoofkwartier in Dar-es-Salaam vermoor, moontlik deur radikale elemente binne FRELIMO. Die Portugese veiligheidsdiens PIDE is ook met die moord verbind. Daarna het radikalisering binne die beweging plaasgevind. In die 1970's het die aantal FRELIMO-vegters gegroei tot ongeveer 7 000 mans en vroue. Danksy hul guerrilla-tegnieke het FRELIMO voortgegaan om die noorde en later ook die sentrum van die land te beheer, ondanks die 60 000 Portugese soldate wat in Mosambiek was om teen hulle te veg.

Na die Angelierrewolusie in Portugal (1974) wat premier Marcello Caetano omvergewerp het, het die nuwe Portugese regering met FRELIMO (1974–1975) begin onderhandel. Op 20 September 1974 kry Mosambiek outonomie en op 25 Junie 1975 word die Volksrepubliek Mosambiek uitgeroep.

Met militêre steun van Kuba en die Sowjetunie het die FRELIMO-leier en president Samora Machel van Mosambiek daarin geslaag om 'n eenpartystaat te skep met die FRELIMO (nou omskep in 'n politieke party) as die enigste toegelate party. Machel het 'n sosialistiese roete gekies. Meer as 'n miljoen vlugtelinge aan die buitewyke van die stede is met geweld na die platteland teruggeforseer, met die gevolg dat meer as 100 000 sterf. Al die Portugese word uit die land gedwing, insluitende die ontwikkelingswerkers wat juis FRELIMO ondersteun het. As gevolg van hierdie beleid het die ekonomie in duie gestort en die land se infrastruktuur verval.

  1. (en) "Election of FRELIMO Candidate Goes Into the Night". Allafrica. 1 Maart 2014. Besoek op 9 Junie 2014.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne