'n Fatwa of fatwā (Arabies: فتوىٰ; meervoud: fatāwā, فتاوىٰ) is 'n regsbeslissing oor 'n Islamitiese geloofswet (sjaria) wat deur 'n gekwalifiseerde geleerde gegee word in antwoord op 'n vraag deur 'n privaat individu, regter of regering.[1][2][3] 'n Geleerde wat fatwas uitreik, word 'n moefti genoem.[1] Fatwas het deur die Islamitiese geskiedenis 'n belangrike rol gespeel en in die moderne tydperk nuwe vorme aangeneem.[4][5]
Fatwas wat privaat uitgereik is, se doel was histories om Moslems in te lig oor Islam en om howe te adviseer oor ingewikkelde punte van Islamitiese en materiële reg.[4] Later is openbare en politieke fatwas uitgereik om standpunt in te neem oor doktrinêre polemieke, regeringsbeleide te wettig of griewe van die bevolking te verwoord.[6][5] In die tyd van Europese kolonialisme het fatwas 'n rol gespeel in die organisering van weerstand teen buitelandse oorheersing.[5]
In die moderne tydperk weerspieël fatwas veranderende ekonomiese, sosiale en politieke omstandighede en hanteer besorghede in Moslemgemeenskappe.[5] Met die verspreiding van gekodifiseerde staatswette en Westerse regsopvoeding in die moderne Moslemwêreld het moefti's se tradisionele rol om wette in howe te verduidelik tot 'n einde gekom.[1][4] Moderne fatwas het al hoe meer begin raad gee oor ander aspekte van sjaria, veral vrae oor godsdiensrituele en die alledaagse lewe.[1][7] Moderne openbare fatwas het al soms omstredenheid in die Moslemwêreld veroorsaak en sommige het wêreldwyd berug geword.[5]