Ferruccio Busoni (1 April 1866 – 27 Julie 1924) was 'n Italiaanse komponis, pianis, dirigent, skrywer en pedagoog. Hy staan veral bekend vir sy verwerkings van J.S. Bach se musiek. Sy internasionale loopbaan en reputasie het daartoe gelei dat hy nou saamgewerk het met baie van die voorste musikante, kunstenaars en literêre figure van sy tyd. Hy was 'n gesogte instrukteur in klavier en komposisie.
Busoni was van jongs af 'n uitstekende, tog soms kontroversiële pianis. Hy het aan die Universiteit van Musiek en Uitvoerende Kunste, Wene (Weense konservatorium) en daarna onder Wilhelm Mayer en Carl Reinecke gestudeer. Na kort tydperke waartydens hy in Helsinki, Boston en Moskou onderrig gegee het, het hy hom gewy aan komposisie en onderrig en getoer as virtuus pianis in Europa en die Verenigde State. Sy geskrifte oor musiek was invloedryk en het nie net estetika behandel nie, maar ook mikrotone en ander innoverende onderwerpe. Hy was vanaf 1894 in Berlyn gebaseer, maar het 'n groot deel van die Eerste Wêreldoorlog in Switserland deurgebring.
Hy het in sy vroeë jare in 'n laat romantiese styl begin komponeer, maar na 1907, toe hy sy Skets van 'n Nuwe Estetika van Musiek gepubliseer het, het hy 'n meer individuele styl ontwikkel, dikwels met elemente van atonaliteit. Sy besoeke aan Amerika het gelei tot belangstelling in Noord-Amerikaanse inheemse melodieë, welke in sommige van sy werke weerspieël word. Sy komposisies sluit in klavierwerke, waaronder 'n monumentale Klavierconcerto, en verwerkings van andere se werke, veral J.S. Bach (uitgegee as die Bach-Busoni Uitgawes). Hy het ook kamermusiek, sang- en orkeswerke en operas geskryf – waarvan een, Doktor Faust, onvoltooid gelaat is toe hy in Berlyn op 58-jarige ouderdom oorlede is.