Fidji | ||||
Unie | Fidjiaanse Rugbyunie (FRU) | |||
Bynaam(e) | Vlieënde Fidjiane | |||
Embleem | die Palmboom | |||
Stadion | ANZ Nasionale Stadion, Suva | |||
Kapasiteit | 25 000 | |||
Afrigter(s) | Mick Byrne (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Tevita Ikanivere | |||
|
||||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Nicky Little (71)[1] | |||
Meeste toetspunte | Nicky Little (670)[2] | |||
Meeste drieë | Vereniki Goneva en Nemani Nadolo (22 elk)[3] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Wes-Samoa 0–6 Fidji (Apia, Samoa; 18 Augustus 1924)[4] | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Fidji 124–4 Niue (Apia, Samoa; 10 September 1983)[5] | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Nieu-Seeland 91–0 Fidji (Auckland, Nieu-Seeland; 10 Junie 2005)[6] | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 9/10 (Eerste in 1987) | |||
Beste uitslag | Kwarteindrondte in 1987, 2007 en 2023 | |||
Unie webwerf | ||||
www.fijirugby.com |
Die Fidjiaanse nasionale rugbyspan (Engels: Fiji national rugby union team) is die nasionale rugbyspan wat Fidji in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Fidji geadministreer deur die Fidjiaanse Rugbyunie (Fiji Rugby Union, FRU) wat in 1913 gestig is. Fidji word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Fidjiaanse rugbyspan is tans (September 2024) tiende op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[7] Die span neem deel aan die jaarlikse Stille Oseaan-nasiesbeker, saam met Japan, Samoa en Tonga. Fidji is ’n lid van die Stille Oseaan-eilande Rugbyalliansie (Engels: Pacific Islands Rugby Alliance; PIRA), saam met Tonga; Samoa was tot in 2009 ook ’n lid, maar hulle het hulself onttrek.[8]
Fidji het in 1924 sy eerste internasionale wedstryd teen Samoa gespeel. Fidji, Samoa en Tonga speel gereeld teen mekaar in toernooie soos die Stille Oseaan-nasiesbeker (tot in 2005 Stille Oseaan-drienasies), waarin Fidji tot dusver 16 titels gewen het. Fidji se bynaam is Flying Fijians (Engels vir: “Vlieënde Fidjiane”) en hulle speel tradisioneel in wit truie met swart broeke. Die Cibi-oorlogsdans (Fidjiaans: [ˈðimbi]) word voor elke toetswedstryd deur die Fidjiaanse span uitgevoer. Die oorlogsdans dateer uit die land se oorloë met naburige eilande en word sedert 1939 op die rugbyveld gebruik.[9]
Fidji het tot dusver vir nege van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer en net die Rugbywêreldbeker 1995 in Suid-Afrika misgeloop. In 1987, 2007 en 2023 het hulle daarin geslaag om tot die kwarteindrondte deur te dring. Een voormalige Fidjiaanse rugbyspeler is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.