Lady Florence Phillips (gebore Dorothea Sarah Florence Alexandra Ortlepp, Kaapstad, Kaapkolonie, 14 Junie 1863 – Vergelegen, Somerset-Wes, Kaapland, Suid-Afrika, 23 Augustus 1940) was ’n weldoener, gasvrou, skryfster, bevorderaar van Suid-Afrikaanse kuns en die eggenote van die mynmagnaat sir Lionel Phillips, wie se rykdom dit vir haar moontlik gemaak het om tallose projekte óf self aan te pak óf ander aan te spoor om dit aan te voor. Genl. Jan Smuts het haar op haar begrafnis beskryf as “no ordinary woman” en bygevoeg: “Sy en haar man was van die mees vooraanstaande en uitsonderlike persoonlikhede wat die Rand en die nuwe Suid-Afrika opgebou het, en sy laat ’n groot indruk na.”[1]
"Lady Florence Phillips het ’n oorheersende rol in die geskiedenis Suid-Afrika gespeel," skryf dr. Thelma Gutsche in die biografie No ordinary woman. The life and times of Florence Phillips. "Sy was ’n baanbreker van die diamant- en goudveld, en het vier oorloë, twee revolusies en die Jameson-inval beleef. [2] Saam met ander mynmagnate was sy verantwoordelik vir die eerste versameling kunswerke, Kaapse meubels en ’n argitektuurbiblioteek in Johannesburg.[3] Sy het die leeueaandeel gehad in die oprigting van die Johannesburgse Kunsmuseum,[4] wat haar geesteskind was[5] en ’n belangrike mylpaal in die kunslewe en kulturele opvoeding van die Goudstad se publiek.[6] Ook het sy onder meer ’n bydrae gelewer tot die stigting Suid-Afrika se eerste nasionale botaniese tuin, Kirstenbosch, die fakulteit argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand, die totstandkoming van die museum in die Koopmans-de Wet-huis en die daarstelling van die Michaelis-versameling in die Burgerwaghuis aan Groentemarkplein.[7]
Sy het immigrasie na Suid-Afrika aangemoedig deur haar betrokkenheid by die 1820 Settlers Monument Association[8] en was die dryfveer vir die restourasie van Vergelegen, Somerset-Wes, die eiendom wat W.A. van der Stel aanvanklik ontwikkel het."[9] Van haar ander bydraes was die reël van 'n kuns-en-kunsvlyt-uitstalling in Milnerpark, Johannesburg, in 1905, die aankoop en restourasie van die Martin Melch-huis in Kaapstad, die aanstelling van die J.M. Solomon as die Universiteit van Kaapstad se argitek, 'n projek wat hom tot selfdood gedryf het, en die oprigting van 'n kunsskool in die Goudstad.[10]