Die 1919 Ford Model T koepee | |
Oorsig | |
---|---|
Vervaardiger | Ford Motormaatskappy |
Produksie | 1908–27 |
Montering | VSA, Europa, Australië, Brasilië, Chili |
Ontwerper | Henry Ford, Childe Wills, Joseph Galamb en Eugene Farkas |
Bakwerk en onderstel | |
Klas | Volgrootte ekonomiese motor |
Bakstyl | geen, 1-, 2-, 3-, 4-deur sedan, toermotor, koepee, roadster, stasiewa, bakkie |
Uitleg | voorenjin, agterwieldryf |
Spesifikasies | |
Enjin(s) | 2.9 L (177 kub. dm.) 20 pk inlynviersilinder |
Ratkas | 2-gang vlakratte |
Lengte | 134 dm (3404 mm) |
Massa | 1200 lb (540 kg) |
Asafstand | 100 dm (2540 mm) |
Plek in geskiedenis | |
Voorganger | Ford Model S |
Opvolger | Ford Model A |
Die Ford Model T (in die omgangstaal bekend as die "Tin Lizzie", Model T, of T) is 'n motor wat deur Henry Ford se Ford Motormaatskappy vervaardig is van 1 Oktober 1908 tot 26 Mei 1927.[1][2] Dit word algemeen beskou as die wêreld se eerste bekostigbare motor, die motor wat reis vir die algemene middelklas Amerikaner geopen het; die rede was Ford se doeltreffende vervaardiging, insluitende monteerbandproduksie in plaas van individuele handvervaardiging.[3]
Die Ford Model T is aangewys as die invloedrykste motor van die 20ste eeu in die "Motor van die Eeu"-kompetisie van 1999, voor die BMC Mini, Citroën DS en die Volkswagen Beetle,[4] en haal nog steeds die top-tienlys van besverkopermotors (op nr. 8) teen 2012.[5]
Hoewel motors reeds vir dekades bestaan het toe die Model T vrygestel is, was hulle steeds skaars en redelik duur. Die Model T lui 1908 in as die historiese jaar toe motors gewild geword het vir die massamark. Die eerste produksie-Model T is op 12 Augustus 1908 vervaardig[6] en het die fabriek op 27 September 1908, by die Piquette-aanleg in Detroit, Michigan verlaat. Op 26 Mei 1927 het Henry Ford aanskou hoe die 15 miljoenste Model T Ford van die monteerlyn afrol by sy fabriek in Highland Park, Michigan.[7]