Francis Edward Masey (Londen, Groot-Brittanje, 8 November 1861 – Salisbury, Rhodesië, 3 September 1912) was ’n Suid-Afrikaanse en Rhodesiese argitek van Britse herkoms.
Doreen E. Greig beskryf Masey in haar biografie van sir Herbert Baker, Herbert Baker in South Africa, as ’n “uitstekende argitek uit eie reg”, maar sy vermoëns is oorskadu deur Baker, saam met wie hy gewerk het van 1896 tot 1910.[1] Frank Kendall, wat saam met Masey gewerk het by die firma H. Baker & Masey in Kaapstad, het hom beskryf as “’n baie merkwaardige mens, in sommige opsigte nogal ’n genie . . . het hom gou bewys as ’n hoogs bekwame organiseerder met ontsaglike dryfkrag, ’n kunstenaar tot in sy vingerpunte met al die voor- en nadele van ’n skeppende verstand”. Masey se styl was in Suid-Afrika grotendeels onderwerpe aan dié van die kantoor van Baker & Masey; tog was daar ook sekere opmerklik verskille in Masey se ontwerpbenadering, iets wat Baker self erken het, volgens Doreen E. Greig, byvoorbeeld toe hy op ’n keer hoor ’n skoolgebou kom uit sy kantoor en sê: “Dit lyk nogal Masey-agtig”. Veral in Rhodesië, waar hy vryer van Baker se invloed was, kon hy sy eie styl, hoewel steeds tipies koloniaal-klassiek, beter ontwikkel en dis dan ook hier dat hy 'n belangrike nalatenskap geskep het.