Franklin D. Roosevelt

Franklin D. Roosevelt
32ste President van die Verenigde State
Ampstermyn (I) 4 Maart 193320 Januarie 1937
(II) 20 Januarie 1937 - 20 Januarie 1941
(III) 20 Januarie 1941 - 20 Januarie 1945
(IV) 20 Januarie 1945 - 12 April 1945
Voorganger Herbert Hoover
Opvolger Harry S. Truman
Geboortedatum 30 Januarie 1882
Geboorteplek Hyde Park, New York
Sterftedatum 12 April 1945
Sterfteplek Warm Springs, Georgia
Eerste Dame Eleanor Roosevelt
Politieke party Demokraat
Visepresident John Garner (1933-1941)
Henry Wallace (1941-1945)
Harry Truman (1945)
Handtekening

Franklin Delano Roosevelt [ˈfɹæŋklɪn ˈdɛlənoʊ ˈɹoʊzəvɛlt] (* 30 Januarie 1882 in Hyde Park, New York; † 12 April 1945 in Warm Springs, Georgia) was vanaf 1933 tot sy afsterwe in 1945 die 32ste President van die Verenigde State.

Franklin D. Roosevelt het as kandidaat van die Demokratiese Party gestaan en is ná sy eerste ampstermyn drie keer herverkies (in 1936, 1940 en 1944). Hy is sodoende die enigste president van die VSA wat dié amp vir meer as twee termyne beklee het. Vanweë die internasionale situasie, wat deur die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog oorheers is, het Roosevelt besluit om vir 'n derde en vierde ampstermyn te staan - ongeag die vrywillige selfbeperking van Amerikaanse presidente wat oorspronklik deur George Washington ingevoer is.

Eers met die 22ste wysiging van die Amerikaanse grondwet (22nd Amendment to the U.S. Constitution) in 1947 is daar sedert 1951 'n formele beperking tot twee ampstermyne.

Roosevelt word ook onthou vir die Leen-en-pagwet wat deur die Amerikaanse kongres goedgekeur is op 11 Maart 1941 wat Amerika indirek betrokke gemaak het by die Tweede Wêreldoorlog.

Hy het die pessimiste egter verkeerd bewys en is na sy eerste ampstermyn 3 keer herkies - iets wat nooit voorheen in die Amerikaanse geskiedenis gebeur het nie. Onder sy leiding het die VSA in 1940 tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree.

Hy word as die VSA se belangrikste president van die eeu beskou. Franklin Delano Roosevelt, wat op 30 Januarie 1882 in Hyde Park, New York, gebore is, was die enigste seun van 'n skatryk familie van Nederlandse afkoms.

Na sy hoërskoolopleiding het hy aan die universiteite van Harvard en Columbia gestudeer en later as advokaat gepraktiseer. Nie sy studies of sy regsloopbaan was besonder geslaag nie. In 1910 het hy besluit om tot die politiek toe te tree. Met die slap het hy die voorbeeld van sy neet Theodore Roosevelt, wat van 1900 tot 1908 president van die VSA was, gevolg. Teen die algemene verwagting in het hy daarin geslaag om as die Demokratiese Party se kandidaat 'n tradisioneel Republikeinse setel as lid van die Senaat in die staat New York te verower.

Hy het gou reeds die aandag op hom gevestig deur ʼn belangrike rol te speel in die politieke stryd teen "Tammany Hall", die korrupte Demokratiese politieke instelling van die stad New York. Hy het later weer gereeld met die instelling probleme ondervind, maar toe hy beset dat dit nie so maklik tot niet gemaak kon word nie, het hy op 'n afstand samewerking probeer bewerkstellig.

Roosevelt het reeds in die eerste jare van sy politieke loopbaan tot ʼn progressief ontwikkel. Die progressiwisme was in die eerste 20 jaar van die 20e eeu 'n belangrike politieke stroming van gematigde hervormers in die VSA. Die groep wou die nywerheidsamelewing suiwer. Sy politieke loopbaan het uiters voorspoedig verloop. In 1912 het Roosevelt een van Woodrow Wilson se eerste aanhangers geword, en toe Wilson in November 1912 tot president verkies word, het hy Roosevelt as onderminister van vlootsake in sy kabinet aangestel.

Na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hy hom vir groot uitbreidings in die Amerikaanse vloot beywer. In 1920 was Roosevelt die Demokratiese Party se kandidaat vir die vise-presidentskap. Na die Demokrate se verkiesingsnederlaag het Roosevelt die sakewêreld betree. Skaars 'n jaar later, in Augustus 1921, het hy 'n ernstige polioaanval gehad wat hom byna sy lewe gekos het en hom, in groot mate in sy onderlyf verlam het.

Hy het egter met ongekende taaiheid vir sy liggaamsherstel geveg en uiteindelik met 'n ingewikkelde loopysterstelsel oor die weg leer kom. Hy kon egter net klein entjies loop en moes by trappe opgedra word.

Ondanks die terugslag het hy later dinamiese verkiesingsveldtogte gevoer. Baie mense het nie beset dat sy onderlyf so te sê geheel en al verlam was nie. Na sy siekte het hy, wat die politiek betref, aanvanklik op die agtergrond gebly. Hy het egter as doeltreffende bemiddelaar tussen strydende groepe in die Demokratiese Party opgetree. Sy vrou, Anna Eleanor Roosevelt (1884-1962), 'n verlangse niggie met wie hy in 1905 getroud is, het in die tyd tot een van sy beste politieke agente ontwikkel.

Sy het haar inkennigheid oorkom, 'n goeie spreekster geword en het haar veral vir die armes beywer. In 1924 en in 1928 het Roosevelt vir Alfred Emanuel Smith (1873-1944), goewerneurvan die staat New York, tydens die Demokratiese konvensie as kandidaat vir die presidentskap gesteun. Smith het egter in 1928, toe hy wel as Demokratiese kandidaat aan die verkiesing deelgeneem het, die stryd teen die Republikein Herbert Hoover verloor.

Tog was daar in die verkiesing van 1928 al ʼn swaai na die Demokratiese Party. Hierdie neiging het in die dertigerjare reusagtige afmetinge aangeneem. In 1928 het Roosevelt hom as goewerneur van die staat New York verkiesbaar gestel en met 'n klein meerderheid gewen. Twee jaar later is hy met 'n oorweldigende meerderheid herkies.

Tydens sy eerste ampstermyn het hy nie veel gedoen om die ellende wat deur die ekonomiese krisis veroorsaak is, te verlig nie en was hy nie veel meer progressief as Hoover nie. Toe dit egter in 1930 duidelik geword het dat die krisis besonder ernstig is en dat dit jare sou duur, het Roosevelt noodlenigingshulp gereël en in 1931 het die Emergency Relief Administration tot stand gekom. Roosevelt se beleid as goewerneur was nou, in teenstelling met die van sy kollegas, vernuwend en hoopvol.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne