Friedensreich Hundertwasser | |
---|---|
![]() Friedensreich Hundertwasser in 1998 in Nieu-Seeland, sy droombestemming wat hy in 1973 vir die eerste keer besoek het en waar hy hom later sou vestig. In 1986 het hy Nieu-Seelandse burgerskap aanvaar | |
Geboortenaam | Friedrich Stowasser |
Gebore | Wene, Oostenryk | 15 Desember 1928
Sterf | 19 Februarie 2000 (op 71) aan boord van die RMS Queen Elizabeth 2, naby Brisbane, Australië |
Nasionaliteit | ![]() ![]() |
Veld | Kuns, argitektuur, skryfwerk |
Opleiding | Self-onderrig |
Beweging | Moderne kuns |
Werke | Hundertwasserhaus Waldspirale KunstHausWien |
Friedensreich Hundertwasser (* 15 Desember 1928 in Wene; † 19 Februarie 2000 aan boord van die plesierboot Queen Elizabeth 2 aan die kus van Brisbane, Australië), volledige kunstenaarsnaam: Friedensreich Regentag Dunkelbunt Hundertwasser, geboortenaam: Friedrich Stowasser, was 'n Oostenrykse kunstenaar wat oorspronklik bekendheid verwerf het as skilder en grafikus, maar later sy stempel ook afgedruk het op argitektuur en daarnaas as omgewingsbewaarder opgetree het. Sy kunstenaarsnaam sinspeel op die betekenis van sto in Slawiese tale ("honderd").
Hundertwasser was sterk gekant teen "reguit lyne" en enige vorm van standaardisering in kuns en argitektuur. Sy eie ontwerpe word gekenmerk deur swierige lyne, kunsvolle versierings en uitbundige gebruik van kleure. Reeds vanaf die 1950's het hy in boukuns begin belangstel. Sy argitektoniese beginsels is verwesenlik in die Hundertwasserhaus, 'n munisipale behuisingsprojek in die Oostenrykse hoofstad Wene wat tussen 1983 en 1985 in samewerking met die argitek Josef Krawina ontstaan het en derhalwe amptelik HundertwasserKrawinaHaus genoem word. Dit is tans een van die mees besoekte geboue in die Alperepubliek.[1]