George V | |
---|---|
Koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse Dominiums; Keiser van Indië | |
Koning George V.
| |
Vorstehuis | Sakse-Koburg en Gotha; Windsor |
Titels | SM die Koning SKH die Prins van Wallis SKH die Hertog van Cornwallis en York |
Regeer | 6 Mei 1910 – 20 Januarie 1936 |
Kroning | 22 Junie 1911 |
Voorganger | Edward VII |
Opvolger | Edward VIII |
Volle naam | George Frederick Ernest Albert |
Gebore | 3 Junie 1865; Marlborough House, Londen |
Oorlede | 20 Januarie 1936; Sandringham House, Norfolk |
Begrawe | 29 Januarie 1936; St. George-kapel, Windsor |
Eggenote | Mary van Teck |
Kinders | Edward VIII George VI Prinses Mary, Gravin van Harewood Prins Henry, Hertog van Gloucester Prins George, Hertog van Kent Prins John |
Vader | Edward VII |
Moeder | Alexandra van Denemarke |
George V (George Frederick Ernest Albert; 3 Junie 1865 - 20 Januarie 1936) was tot met sy dood in 1936 koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse dominiums asook keiser van Indië en die eerste koning van Ierland na dié se onafhanklikwording.
George is gebore tydens die bewind van sy ouma, koningin Victoria. Hy was die tweede oudste seun van Albert Edward, die Prins van Wallis, en die derde aanspraakmaker op die Britse troon ná sy vader en oudste broer, prins Albert Victor. Van 1877 tot 1892 het hy in die Britse Vloot gedien, tot met die onverwagte dood van sy oudste broer vroeg in 1892 wat hom in die direkte lyn van die troonopvolging geplaas het. George het die volgende jaar met sy broer se verloofde, prinses Victoria Mary van Teck, getrou en hulle het ses kinders gehad. Ná koningin Victoria se dood in 1901 het George se vader die troon bestyg as Edward VII en George het die Prins van Wallis geword. Hy het in 1910 koning geword met die dood van sy vader.
Gedurende George se bewind was daar die opkoms van sosialisme, kommunisme, fascisme, Ierse republikanisme en die Indiese onafhanklikheidsbeweging – wat alles die politieke landskap van die Britse Ryk verander het, terwyl die ryk sy territoriale hoogtepunt aan die begin van die 1920's bereik het. Die Parlementswet van 1911 het die oppergesag van die verkose Laerhuis gevestig bo dié van die onverkose Hoërhuis. Weens die Eerste Wêreldoorlog (1914-'18) het die ryke van sy neefs Nikolaas II van Rusland en Wilhelm II van Duitsland geval, terwyl die Britse Ryk sy grootste omvang bereik het.
In 1917 het George die eerste monarg van die Huis van Windsor geword nadat hy die Huis van Sakse-Koburg en Gotha vanweë anti-Duitse sentiment hernoem het. Hy het in 1924 die eerste ministerie van die Arbeidersparty aangestel, en die Verordening van Westminster van 1931 het die ryk se grondgebiede erken as aparte, onafhanklike state binne die Britse Statebond.
George het aan die einde van sy bewind aan rookverwante siektes gely. Hy is met sy dood in Januarie 1936 opgevolg deur sy oudste seun, Edward VIII. Edward het in Desember dié jaar geabdikeer en is opgevolg deur sy jonger broer, Albert, wat die troonnaam George VI aangeneem het.