In die Griekse mitologie is Geruon of Geruones (Grieks: Γηρυών; Γηρυόνης; of Γηρυονεύς, Geruoneus) die seun van Chrusaor en Kallirrhoë, die kleinseun van Medusa en die nefie van Pegasus. Hy was 'n vreesaanjaende reus wat op die eiland Erutheia van die mitiese Hesperides in die verre weste van die Middellandse See gewoon het. Hy is dikwels beskryf as 'n monster met óf drie lywe en drie koppe óf een lyf en drie koppe óf drie lywe en een kop. Daar word algemeen aanvaar hy was hoofsaaklik menslik, met 'n paar kenmerkend eienskappe soos vlerke. Hy was beroemd om sy beeste.