Geskiedenis van Nederlands

Nederlands is 'n Indo-Europese, Germaanse taal wat hoofsaaklik gepraat word in Nederland, Vlaandere en Suriname. Dit is nou verwant aan die ander Wes-Germaanse tale: Engels, Fries, Duits, Nedersaksies, Luxemburgs, Jiddisj en die dogtertaal Afrikaans.

Nederlands se vroeë voorloper is Oudnederfrankies, 'n versameling Istwaeoonse dialekte wat na 500 ontstaan het as gevolg van dialektiese differensiasie binne die Wes-Germaanse groep. Dit kan onder meer toegeskryf word aan twee ontwikkelings: die Ingweoonse klankverskuiwings om die Noordsee, en die Hoogduitse klankverskuiwing in Suid-Duitsland, Switserland en Oostenryk, wat in die teenoorgestelde rigting beweeg het. Frankies word vanaf 800 saam met die Ingweoonse kusdialek ook Oudnederlands genoem, wat vanaf 1150 tot die dialekte van Middelnederlands ontwikkel het.

Vanaf 1550 het Nuwe Nederlands uit hierdie dialekte ontwikkel onder die invloed van 'n strewe na eenvormigheid en standaardisering. Hierdie taal was eers onder die sterk invloed van die Vlaamse en Brabantse dialekte en later Hollands. Daarby het Limburgs 'n rol gespeel, en in 'n mindere mate ook die Noordoostelike dialek Nedersaksies. Gesproke taal en skryftaal het geleidelik uitmekaar gegroei, tot so 'n mate dat 'n skryftaal ontstaan het wat vandag styf en kunsmatig lyk, hoofsaaklik as gevolg van die sterk invloed van die Franse woordeskat en Latynse grammatika. 'n Omgekeerde ontwikkeling het plaasgevind vanaf die einde van die 19de eeu, toe spreektaal en skryftaal weer in moderne Nederlands saamgevloei het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne