Die Thebaanse Dodeakker is aan die westeroewer van die Nylrivier in Egipte geleë, oorkant Luxor. Daar is talle grafkelders benewens die bekendstes in die Vallei van die Konings en Vallei van die Koninginne. Hulle word algemeen die Grafkelders van die Adellikes genoem en bevat van die oorblyfsels van sommige magtige amptenare en ander mense van die antieke stad.
Daar is minstens 415 aangetekende grafkelders met die letter TT (vir "Thebaanse Tombe") vooraan. Daar is ander grafkelders waarvan die ligging verlore gegaan het of wat nie aan die nodige vereiste vir dié klassifikasie voldoen nie, soos die MMA-grafkelders (MMA staan vir Metropolitan Museum of Art). Baie Thebaanse grafte het "grafkeëls" oor die ingang na die grafkelder se kapel gehad. Tydens die Nuwe Ryk is die titel en naam van die grafeienaar daarop aangebring, soms saam met 'n kort gebed. Van die 400 aangetekende stelle keëls kom net 80 van grafkelders wat gekatalogiseer is.[1]
Die nommeringstelsel is die eerste keer deur Arthur Weigall gepubliseer in sy Report on the Tombs of Shêkh Abd’ el Gûrneh and el Assasîf van 1908.[2] Dit is deur latere skrywers gevolg.[3][4][5] Die grafkelders is nie volgens enige topografiese volgorde genommer nie, maar volgens die volgorde waarin hulle ontdek is.[6]