Onder die golf by die kus van Kanagawa (裏 沖浪 裏, Kanagawa-oki nami-ura), gewoonlik kortweg Die Groot Golf genoem, is 'n uitgekerfde houtafdruk (ukiyo-e) van die Japannese kunstenaar Katsushika Hokusai van ongeveer 1830-1831. Dit is die eerste stuk uit die ses-en-dertig aansigte op die Foedji-berg en die bekendste werk van Hokusai.
Die kunswerk toon 'n paar bote wat probeer om op 'n see van groot golwe te seil. Die grootste golf dreig om die roeiers te verpletter. In hierdie golf kan 'n monster met kloue, wat die krag van die natuur, maar ook die krag van die roeiers, uitbeeld, gesien word. Hierdie golf kan moontlik 'n tsoenami voorstel, maar gegewe die vorm is dit waarskynlik nie. Die gebied rondom Kanagawa (aan die baai van Tokio) is in die 15de eeu deur 'n tsoenami vernietig, maar Hokusai se vorm herinner meer aan 'n monstergolf op die see, aangesien dit ook onder laboratoriumtoestande geskep kan word.
Op die agtergrond is berg Foedji, wat weerspieël word in al 36 kunswerke. Die berg is ook moontlik in die golf in die voorgrond uitgebeeld.
Die kunswerke is baie keer gekopieër. Hokusai het self verskeie afdrukke gemaak en na sy dood is die kopiëring voortgesit. Voorbeelde word gevind in die versamelings van die Metropolitan Museum of Art in New York, die Britse Museum in Londen, die huis van Claude Monet in Giverny, die Rijksmuseum in Amsterdam en die Centre Céramique in Maastricht.
Die stuk is 25,7 cm by 37,8 cm groot en bestaan uit 9 verskillende lae.