Haile Selassie

Haile Selassie
"Neguse Negest" (Koning van die Konings)
Keiser van Ethiopië
Haile Selassie
Haile Selassie
Vorstehuis Salomo
Regeer 2 November 193012 September 1974
Kroning 2 November 1930
Voorganger Zauditu
de jure Opvolger Amha Selassie I
de facto Opvolger Aman Andom
Volle naam Lij Tafari Makonnen
Gebore 23 Julie 1892; Ejersa Goro, Ethiopië
Oorlede 27 Augustus 1975; Addis Abeba, Ethiopië
Begrawe Heilige Drie-eenheid Katedraal, Addis Abeba, Ethiopië
Eggenoot Menen Asfaw
Kinders Romanework, Tenagnework, Asfaw Wossen, Zenebework, Tsehai, Makonnen, Sahle Selassie
Vader Makonnen Wolde Mikael
Moeder Weyziro Yeshimebet Ali Abajifar
Religie Ethiopiese Ortodokse Kerk
Die Haile Selassie-musuem, Addis Abeba.
Die tombe van Haile Selassie.

Haile Selassie (Ge'ez: ቀዳማዊ ኃይለ ሥላሴ, transliterasie: qädamawi haylä səllasé) is op 23 Julie 1892 naby Hãrer, Ethiopië, gebore en in die Ethiopies-Ortodokse Kerk gedoop as Tafari Makonnen. Hy was 'n kleinneef van die Ethiopiese keiser Menelik II en met sy hulp is die keiser se opvolger, Lij Iyasu, in 1916 onttroon en vervang met Zauditu, die keiser se dogter. Met Zauditu se dood in 1930 het Haile Selassie, wat intussen haar regent en 'n Ras (hertog, prins of goewerneur) geword het, haar opgevolg en self keiser geword.

In 1931 het Haile Selassie 'n grondwet goedgekeur waarvolgens Ethiopië se eerste parlement en regstelsel ingestel is. In 1936 het Haile Selassie tydelik as banneling na Engeland gevlug nadat Italië sy land die vorige jaar binnegeval het. Met Brittanje se hulp is Italië later verslaan en het Haile Selassie in 1942 teruggekeer om sy land te regeer. Hy was daarna onder meer verantwoordelik vir uitgebreide landhervormings, die beëindiging van slawerny (1942) en die verdere uitbreiding van Ethiopië se grondwet (1955).

Pogings om Haile Selassie se regering omver te werp, is in 1960 suksesvol afgeweer, maar teen 1974 het 'n kombinasie van faktore - soos korrupsie in die regering, swak bestuur, droogte, inflasie en hongersnood - veroorsaak dat Haile Selassie sy volk se steun grootliks verloor het. Hy is gedwing om van die troon afstand te doen en is op 27 Augustus 1975 in Addis Abeba oorlede.

Vir die meeste Rastafariërs was Haile Selassie egter steeds Jah op aarde. Hulle maak daarop aanspraak dat hy die 225ste koning in die Huis van Salomo was, en dat hy daarmee die oudste troon op aarde verteenwoordig het. Hierdie troon is volgens Rastafariërs 3 000 jaar oud (veel ouer as die Britse vorstehuis se sowat 500 jaar). Boonop is Ethiopië die enigste staat in Afrika wat kolonialisme suksesvol afgeweer het. Die kroning van Haile Selassie was dus 'n vervulling van God se belofte aan koning Dawid.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne