Die hamergooi is een van die vier gooi-items in gereelde buitelugbaan- en veldkompetisies, saam met die skyfwerp (diskusgooi), gewigstoot en spiesgooi.
Die "hamer" wat egter in hierdie sport gebruik word, lyk nie soos enige ander gereedskap met dieselfde naam nie. Dit bestaan uit 'n metaalbal wat met 'n staaldraad aan 'n greep geheg is. Hierdie drie komponente is apart van mekaar en kan elk onafhanklik beweeg. Beide die grootte en massa van die bal verskil tussen mans en vroue by byeenkomste. Die vrouehamer weeg 4 kg vir kollege- en professionele byeenkomste terwyl die manshamer 7,26 kg weeg.[1]
Die gooibeweging begin met die gooier wat die hamer omtrent twee keer heen-en-weer swaai om momentum te genereer. Die gooier maak dan drie, vier of (selde) vyf volle rotasies deur 'n komplekse hak-toon voetbeweging te gebruik, die hamer in 'n sirkelvormige baan te draai en sy hoeksnelheid met elke rotasie te verhoog. Eerder as om die hamer horisontaal te draai, word dit in 'n opwaartse vlak gedraai in die rigting waarin dit gelanseer sal word. Die gooier laat die hamer los terwyl sy snelheid opwaarts en na die teiken gerig is.[2]
Gooie word vanuit 'n gooisirkel gemaak. Die gooier word nie toegelaat om buite die gooisirkel te staan voordat die hamer geland het nie en mag slegs van die agterkant van die gooisirkel in en uitgaan. Die hamer moet binne 'n 34.92° gooisektor land wat op die gooisirkel gesentreer is. Die sektorhoek is so gekies omdat dit 'n sektor verskaf waarvan die grense maklik is om te meet en op 'n veld uit te lê (10 meter uit die middel van die ring, 6 meter oorkruis).[3] 'n Oortreding van die reëls lei tot 'n fout en die gooi sal dan nie tel nie.
Die gooiafstand hang af van die snelheid en hoogte waarteen die hamer losgelaat word, maar ook van ander faktore wat nie binne die atleet se beheer is nie.[4] Veral die aarde se rotasie beïnvloed dit via die ligging se breedtegraad (as gevolg van die middelpuntvliedende krag sal die hamer 'n bietjie verder vlieg op 'n plek nader aan die ewenaar) en in 'n mindere mate ook via die gooi se asimut (d.w.s. sy kompasrigting, a.g.v. Corioliskragte).[4]