Harland and Wolff Heavy Industries Limited | |
Tipe | Public limited company |
---|---|
Gestig | 1861 Genasionaliseer in 1977 Geprivatiseer in 1989 |
Hoofkantoor | Belfast, Noord-Ierland, Verenigde Koninkryk |
Sleutelpersone | Edward Harland Gustav Wilhelm Wolff William Pirrie, 1st Viscount Pirrie Thomas Andrews Sir John Parker |
Industrie | Siviele ingenieurswese Mariene ingenieurswese Skeepsbou Offshore-toerusting |
Werknemers | 79 |
Moedermaatskappy | InfraStrata plc, Londen |
Webwerf | harland-wolff.com |
Harland & Wolff Heavy Industries is 'n Noord-Ierse swaaringenieurswese-maatskappy met skeepsbou en windkragsentrales as sy kernbedrywighede. Die hoofkwartier is in Belfast gesetel.
'n Groot verskeidenheid skepe is in Harland and Wolff se werf in die ooste van Belfast se middestad gebou, waarvan RMS Olympic, RMS Titanic en Britannic, drie reusepassasierskepe uit 'n sewentigtal wat in opdrag van die White Star Line-redery gebou is, die Koninklike Vloot se HMS Belfast, Royal Mail Line se Andes, Shaw Savill se Southern Cross en P&O se SS Canberra die bekendstes is. Die werf was drie dekades lank, tussen 1900 en 1930, die belangrikste werkgewer in Belfast. In die tyd van die Tweede Wêreldoorlog het dit werk verskaf aan 35 000 mense. Vanaf die 1950's het die onderneming agteruitgegaan weens die toenemende mededinging van skeepswerwe in Japan en Suid-Korea en die vervanging van oseaanskepe deur stralervliegtuie op transatlantiese en ander oorsese roetes. Die maatskappy se amptelike geskiedenis, Shipbuilders to the World, is in 1986 gepubliseer.
Die groeiende vraag na windkragsentrales in kusgebiede het van hierdie segment intussen die belangrikste bedrywigheid van Harland and Wolff gemaak wat driekwart van hul aktiwiteite verteenwoordig. So het die onderneming in November 2016 'n kontrak van Scottish Renewables ter waarde van £20 miljoen gewen om staalfondasies vir die uitbreiding van die East Anglia One-windplaas langs die kus van East Anglia, Engeland te verskaf.[1] Die onderneming doen daarnaas herstel- en ombouwerk aan skepe en veerbote. Sy geriewe word onder die grootstes in Europa gereken en is in staat om van die grootste seevaartuie te hanteer.[2]