Hartoorplanting

Rekenaar gegenereerde 3d deursnit van die hart

'n Weergalose prestasie in die mediese geskiedenis van die wêreld is die nag van Saterdag, 3 Desember 1967 in Suid-Afrika behaal. In 'n middernagtelike operasie van langer as vyf uur het 'n span hartchirurge en mediese tegnoloë van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad die eerste hartoorplanting in 'n mens gedoen. 

'n Joodse sakeman van Seepunt, Louis Washkansky (53) was die eerste ontvanger van 'n oorgeplante hart. Weldra sou sy naam in groot opskrifte in elke nuusblad van die wêreld verskyn, saam met die van die leier van die hartspan, prof. dr. Christiaan Neethling Barnard

Die eerste hartskenker was mej. Denise Darvall. Sy en haar moeder is die Saterdagmiddag omtrent 'n kilometer van die Groote Schuur-hospitaal deur 'n motor omgery. Haar moeder is op slag dood. Daardie middag was die bewustelose Denise bestem om onwetend 'n rol in een van die grootste mediese dramas van alle tye te speel. Haar brein was onherstelbaar beskadig, maar haar hart het nog geklop. Kort voor middernag het twee dokters die gebroke mnr. Edward Darvall, Denise se vader, in die hospitaal genader. "Ons het ons bes gedoen, niks kan u dogter se lewe red nie." Toe vra hulle hom of hy sou toelaat dat sy dogter se hart op 'n sterwende man oorgeplant word. Mnr. Darvall het ingestem.

Denise se hart het kort voor middernag gaan staan. Narkose is op Louis Washkansky toegedien. Denise se hart is eers met koue bloed uit 'n hart-longmasjien verkoel, en toe verwyder. Dit is ondersoek en onbeskadig bevind. In die operasiesaal langsaan het prof. Chris Barnard sonder tydsverspilling Washkansky se borsholte oopgesny en sy ou hart verwyder. "Dit was my die oomblik van waarheid," sou prof. Barnard later sê, "pas nadat ek Washkansky se hart uitgehaal het. Voor my het 'n man sonder hart gelê, maar wat tog leef. " 

Die nuwe, verkoelde hart was veel kleiner as Washkansky se oue, en moes reg geknip en gemeet word om in sy borskas te kom. Toe is die bloedstroom geleidelik verwarm. Die hart het nie geklop nie. Almal was baie gespanne. Eensklaps het die nuwe hart begin fibrilleer. Die senuvesels in die hartkamer het die hartspier begin opwek. Maar die hart het nie geklop nie, en daar is besluit om 'n elektriese skok toe te dien. Met die eerste skok het die hart begin klop. 

"Hemel, dit gaan werk!" was Chris Barnard se verheugde uitroep. Die hart het bestendig geklop. Die wêreld se eerste hartoorplanting het geslaag. Na verdere toetse was die operasie afgehandel en dr. Barnard het uitgestap. Later is die lede van die hartspan huis toe. Dit was Sondagmore. Een van hulle, dr. Marius Barnard, Chris Barnard se broer, is eers kerk toe, na die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die kerk van sy sendelingvader. 

"Ek het altyd geglo," het Marius gesê. "Nou glo ek sterker as ooit." Prof. Chris en dr. Marius Barnard het in die sendingpastorie op die Karoodorp Beaufort-Wes grootgeword. Die Barnards het 'n eenvoudige, byna armoedige bestaan gevoer. Adam, vader van die twee beroemde dokters, het hom die lewensdoel gestel om die Evangelie onder die Kleurlinge te verkondig en om sy vier seuns 'n behoorlike opvoeding te gee. Op R40 per maand het hy nie alleen vir sy vrou en seuns gesorg nie, maar dit ook reggekry om drie van hulle universiteit toe te stuur. 


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne