Hellanikos | |
---|---|
Gebore | 490 v.C. |
Sterf | omstreeks 405 v.C. (op die ouderdom van ongeveer 85) |
Noemenswaardige werke |
|
Hellanikos (of Hellanicus) van Lesbos (Grieks: Ἑλλάνικος ὁ Λέσβιος, Hellánikos ho Lésbios), ook bekend as Hellanikos van Mytilene (Grieks: Ἑλλάνικος ὁ Μυτιληναῖος, Hellánikos ho Mutilēnaῖos; 490 v.C. – omstreeks 405 v.C.), was 'n oudgriekse logograaf wat gefloreer het gedurende die tweede helfte van die 5de eeu v.C. Hy is in 490 v.C. gebore in Mytilene op die eiland Lesbos, en daar word beweer dat hy tot die ouderdom van 85 geleef het. Volgens die Suda het hy 'n geruime tyd aan die hof van een van die konings van Masedonië gewoon, en gesterf in Perperena, 'n stad in Aeolis op die plato van Kozak naby Pergamon, oorkant Lesbos.[1] Hy was een van die mees produktiewe van die vroeë historici. Sy baie werke, hoewel nou verlore, was baie invloedryk. Hy is aangehaal deur 'n aantal ander skrywers, wat daardeur baie fragmente van sy werke bewaar het, waarvan die mees onlangse versameling deur José J. Caerols Pérez is, wat 'n biografie van Hellanikos insluit.[2]
Hellanikos het werke oor chronologie, geografie en geskiedenis geskryf, veral oor Attica, waarin hy 'n onderskeid getref het tussen wat hy gesien het as Griekse mitologie en -geskiedenis. Sy invloed op die geskiedskrywing van Athene is aansienlik en het geduur tot die tyd van Eratostenes (3de eeu v.C.).
Hy het die eng plaaslike grense van die ouer logograwe oorskry, en was nie tevrede om bloot die tradisies wat deur die toedoen van die digters algemene aanvaarding verkry het, te herhaal nie. Hy het probeer om die tradisies op te teken soos dit plaaslik-aktueel was, en het gebruik gemaak van die paar nasionale of priesterlike registers, wat die naaste was wat hy kon kom aan iets soos 'n kontemporêre registrasiestelsel.
Hy het gepoog om die grondslag te lê van 'n wetenskaplike chronologie, hoofsaaklik gebaseer op die lys van die Argiaanse priesteresse van Hera, en tweedens op geslagsregisters, lyste van landdroste (bv. die archons by Athene), en Oosterse datums, in die plek van die ou berekening deur geslagte. Maar sy materiaal was onvoldoende en hy moes dikwels die ouer metodes gebruik.
Sowat dertig werke word aan hom toegeskryf, chronologies, histories en episodies. Dit sluit in:
Sy werk sluit die eerste vermelding in van die legendariese stigting van Rome deur die Trojane; hy skryf dat die stad gestig is deur Eneas toe hy Odusseus op sy reise deur Latium vergesel het.[6] Hy het ook die idee ondersteun dat 'n inkomende groep Pelasgers agter die oorsprong van die Etruskers lê. Laasgenoemde idee, uit sy Phoronis, het Dionusios van Halikarnassos beïnvloed, wat hom [I.28] as bron aanhaal.[7]