Hendrik Snijders | |
![]() | |
Ds. H.J.C. Snijders
| |
Naam | Hendrik Johannes Christoffel Snijders |
---|---|
Geboorte | 2 Maart 1906 Leeudoringstad |
Sterfte | 5 November 1975 (69 jaar oud) Johannesburg |
Kerkverband | Nederduits Gereformeerd |
Gemeente(s) | Salisbury, Goodwood, Pietermaritzburg-Wes, Johannesburg-Oos (Irenekerk), Johannesburg-Sterrewag |
Jare aktief | 1932 tot 1975 |
Kweekskool | Kweekskool, Stellenbosch |
Ds. Hendrik Johannes Christoffel Snijders (Leeudoringstad, 2 Maart 1906 – Johannesburg, 5 November 1974) was 'n predikant in vyf gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1931 tot 1974 toe hy oorlede is ná 'n hartaanval, slegs drie weke voordat hy sou aftree.
Vanweë sy buitengewone geesdrif en groot bekwaamheid het ds. Snijders kort ná sy legitimasie belangrike ampte in die kerk begin beklee en was hy aktuarius en moderator van die Natalse Sinode, asook assessor en waarnemende moderator van die Suid-Transvaalse Sinode. Hy het ook in sy bediening'n lewendige belangstelling in die Afrikaner se kultuurlewe getoon en deur sy aktiewe deelname 'n belangrike rol in die uitbouing en handhawing daarvan – veral in Natal – gespeel. Hy was jare lank lid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge se hoofbestuur en 'n sterk voorstander van rasseskeiding, soos blyk uit sy uitspraak, aangehaal in die Cape Argus, in Februarie 1961: “Nêrens kry ons ’n opdrag om die idee van rasseskeiding uit te wis nie. Inteendeel, ons wil aanvoer ’n proses waardeur alle rasse gelykgestel word, is strydig met die wil van die Here.”[1] Twee jaar vantevore is hy in die Cape Times van 1 Mei 1959 aangehaal: "Wanneer die minder ontwikkelde soort mens, of die primitiewe heiden, hom bekeer, raak hy nie onmiddellik vry van sy sondige natuur nie … die heiden kan (nie) sy natuurlike verdorwenheid (“depravity”) oornag afskud nie."[2]
Kort nadat hy op 'n gesamentlike Hervormingsdiens op Swartruggens op die kansel ineengesak het, sterf hy op 5 November 1975,[3] hoewel 'n ander bron aanvoer hy is op die kansel oorlede.[4]