Die Hugenote-seminarie was ’n opvoedkundige instelling op Wellington. Dit het op 19 Januarie 1874 amptelik geopen en deur die toedoen van die plaaslike NG predikant ds. Andrew Murray ontstaan. Daar was aanvanklik plek vir 40 kosgangers en die instelling was heeltemal Engels georiënteerd.
Uit die Seminarie het die meisieskool ontstaan wat in 1954 met die Wellingtonse jongenskool as die Hugenote Hoërskool saamgesmelt het. Die Kaapkolonie se onderwysdepartement het die opleiding van onderwyseresse in 1896 oorgeneem. Dié Normaalskool was die voorloper van die Wellingtonse Onderwyskollege (WOK) wat in 1990 met die Paarlse Onderwyskollege (POK) as die Bolandse Onderwyskollege (BOK) saamgesmelt het en wat eindelik die Wellingtonse fakulteit opvoedkunde van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) geword het waar onderwysers in Afrikaans opgelei word. Die Vrouesendingbond van die Kaapse Kerk was ’n voortvloeisel van die Hugenoten Zending Vereeniging aan die Seminarie, waar oorspronklik ook sendingwerksters opgelei is. Binne enkele jare ná die ontstaan van die Seminarie het ander skole op die model daarvan ontstaan, waarvan aan die hoof meer as een van die Hugenote-dogters gestaan het: die Bloemhof-seminarie op Stellenbosch, die Midland Seminarium op Graaff-Reinet, die Damesseminarie op Worcester (later saamgesmelt met die jongenskool as die Worcester Gimnasium), die Eunice Damesinstituut, die Paarlse Meisieskool, wat as ’n tak van die Seminarie begin en later Hoër Meisieskool La Rochelle geword het en die Bellevue Seminarium op Somerset-Oos, wat in 1965 by die indertydse seunskool Gill-kollege ingelyf is.