Iljoesjin Il-28

Iljoesjin Il-28
Tipe Bomwerper
Vervaardiger Iljoesjin
Nooiensvlug 8 Augustus 1948
Bekendstelling 1950
Onttrek 1980 Sowjetunie
Status Uit diens gestel
Hoofgebruiker Sowjet Lugmag

Die Iljoesjin Il-28 was die Sowjetunie se eerste straalaangedrewe bomwerper. NAVO se kodenaam vir die vliegtuig is Beagle. Die Il-28 was bekend as die Sowjetunie se Canberra, bekend vir sy langslewendheid en aanpasbaarheid. Die prototipe het sy nooiensvlug 8 Augustus 1948 voltooi en was binne twee jaar in diens gestel. Vyf-en-twintig voorproduksie-eenhede het deelgeneem aan 'n verbyvlug by die 1950 Moskou Meidag verrigting. Dit was 'n belangrike dag vir die Westerse analiste gedurende die Koue Oorlog; dit is hier waar die Sowjetunie sy nuwe toerusting aan die wêreld vertoon het.

Produksie is in 1960 in die Sowjetunie gestaak en eers in 1969 in China, waar die vliegtuig onder lisensie vervaardig is. Daar is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog reeds met die ontwerp van die vliegtuig begin. Die ontwerp was konvensioneel, dit het meer aan die verlede herinner as die toekoms - die vlerke was reguit. Die stertvlerke en stertvin was teen 'n skerp hoek geswaai. Dit het stabiliteit verskaf tydens hoëspoed-duikvlugte.

Die prototipe is aangedryf deur twee RD-10 turbostraalmotore wat ontwikkel is uit die Duitse Junkers Jumo motors van die Tweede Wêreldoorlog. Die produksiemodelle is toegerus met Klimov Vk-1 motors, 'n Sowjetweergawe van die betroubare Britse Nene-motor wat voor die Koue Oorlog aan hulle verkaf is. Die motors het aan hangers onder die vlerke gehang. Die kajuit was die borreltipe met die vlieënier wat 'n uitsig soos die van 'n vegvliegtuig gehad het. Die navigator/bombardier se visier was in 'n Tweede Wêreldoorlog-tipe glasneus geïnstalleer. By die basis van die stertvin was 'n geëlektrifiseerde skiettoring wat baie lyk soos die van die Boeing B-17 Flying Fortress en Boeing B-29 Superfortress. Daar is twee 23 mm masjiengewere in die skiettoring. Interessant was die skutter hier ook die radio-operateur van die vliegtuig. Daar is ook twee 23 mm masjiengewere in die neus.

Met die bomlaai vol en die hegpunte onder die vlerke kan die vliegtuig 3 000 kg se bomme dra. Daar is ook 'n fasiliteit vir eksterne brandstoftenks aan die vlerkpunte.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne