Iljoesjin Il-62 | |
---|---|
Tipe | Passasiersvliegtuig |
Vervaardiger | KAPO |
Nooiensvlug | 3 Januarie 1963 |
Vrygestel | 10 Maart 1967 |
Hoofgebruiker | Aeroflot |
Vervaardig | 1963 tot 1995 |
Aantal gebou | 292, waarvan 5 prototipes 94 Il-62 193 Il-62M |
Programkoste | - |
Eenheidskoste | - |
Die Iljoesjin Il-62 (Russies: Ильюшин Ил-62) is die Sowjetunie se eerste langafstand-passasiervliegtuig wat met stralerenjins toegerus en as opvolger van die Toepolef Tu-114 en die turboskroef-vliegtuig Il-18 ontwikkel is. Dit is ontwerp as 'n smalrompvliegtuig vir 'n maksimale reikwydte van 10 000 km, 'n kruissnelheid van 900 km/h en sitplekke vir 195 passasiers.[1] Destyds was dit die grootste passasierstraler ter wêreld. Vergelykbare westerse langafstand-passasierstralers, wat in die laat 1950's en 1960's ontwikkel is, is die Amerikaanse Boeing 707 (in 1958 in bedryf gestel) en Douglas DC-8 (1959) asook die Britse Vickers VC10 (1964).
Sy nooiensvlug het in Januarie 1963 plaasgevind, en op 10 Maart 1967 is die eerste Il-62 deur die Sowjet-Russiese lugredery Aeroflot in bedryf gestel. 'n Nuwe variant met sterker enjins en laer brandstofverbruik is in 1971 as Il-62M ingevoer. Die vervaardiging van Il-62-stralers deur die Russiese Kazan Aircraft Production Association (KAPO) is eers in 1995 gestaak. Altesaam 292 vliegtuie is gebou waarvan 'n handjievol nog in bedryf is.
Die Il-62 en Il-62M het enjins met 'n betreklik hoë keroseenverbruik volgens moderne standaarde wat ook bogemiddelde geraas maak. Derhalwe word hulle vir gereelde vlugte op lughawens in die Europese Unie nie meer toegelaat nie.[2]