Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Interaktiewe kuns is 'n kunsvorm waar die kyker betrek moet word sodat die kuns sy doel bereik. Sommige interaktiewe kunsinstallasies slaag hierin deur die kyker of besoeker die geleentheid te gee om in, op en rondom die werke te "loop"; ander vereis van die kunstenaar of kykers om deel van die kunswerk te word.[2]
Hierdie soort kunswerke behels dikwels dat rekenaars, koppelvlakke en soms sensors op beweging, hitte, meteorologiese veranderinge of ander toevoer reageer waarvoor hulle skeppers hulle geprogrammeer het. Die meeste voorbeelde van internetkuns en elektroniese kuns is hoogs interaktief. Soms kan besoekers deur 'n hiperteks-omgewing snuffel; sommige werke reageer op eksterne tekstuele of visuele invoere; soms kan toeskouers die verloop van 'n uitvoering beïnvloed of selfs daaraan deelneem. Sommige ander interaktiewe werke word as "immersief" beskou aangesien die interaksie die hele spektrum van omringende stimuli behels. Virtuele realiteitsomgewings soos werke deur Maurice Benayoun en Jeffrey Shaw is hoogs interaktief aangesien die werke waarmee die kykers – Maurice Benayoun noem hulle "besoekers", Char Davies "immersante" – omgaan, al hulle persepsies betrek.
Alhoewel sommige van die vroegste voorbeelde van interaktiewe kuns uit die 1920's dateer, het die grootste hoeveelheid digitale kuns eers in die laat 1990's tot die kunswêreld toegetree.[3] Sedert hierdie debuut is digitale en interaktiewe kuns toenemend deur museums en uitstallokale geakkommodeer. Hierdie ontluikende kunsgenre is steeds besig om taamlik vinnig deur middel van grootskaalse stedelike installasies en die sosiale internet-subkultuur te ontwikkel.