Islamitiese seksualiteitswette is die regswetenskap oor seksualiteit in Islam, soos grootliks voorgeskryf in die Koran, hadit (mededelings van Mohammed) en fatwa (beslissings deur Islamitiese godsdiensleiers). Dit beperk seks tot ’n huweliksdaad tussen ’n man en vrou. Hoewel die meeste tradisies selibaat ontmoedig, moedig almal streng kuisheid en fatsoenlikheid aan met betrekking tot enige verhouding tussen die twee geslagte. Die sensitiwiteit vir die verskille tussen die geslagte en fatsoenlikheid buite die huwelik kan gesien word in belangrike aspekte van die Islam, soos voorskrifte vir kleredrag en die skeiding tussen mans en vroue.
Hoewel die verbod op seks buite die huwelik streng is, is seks self nie ’n taboe onderwerp nie.[1][2] Daar is egter selfs ná die troue beperkings: ’n Man mag nie seks met sy vrou hê terwyl sy menstrueer of vir ’n tydperk ná die geboorte van ’n kind nie. Anale seks is ook ’n sonde. Dade en gedrag soos aborsie (buiten om mediese redes) en homoseksualiteit word verbied; geboortebeperking is toelaatbaar.