Jan François Elias Celliers | |
---|---|
![]() | |
Gebore | Jan Francois Elias Celliers 12 Januarie 1865 |
Sterf | 1 Junie 1940 (op 84) |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Digter, dramaturg, essayis |
Bekend vir | Gedigte |
Eggenoot | Susanna Jacoba Dürr |
Kinders | Een dogter, 3 seuns |
Johannes Francois Elias Celliers (12 Januarie 1865 – 1 Junie 1940) was 'n Afrikaanse digter, kortverhaalskrywer en dramaturg. Hy is veral bekend vir Die vlakte en ander gedigte (1908) en die epiese gedig Martjie (1911). Een van sy bekendste gedigte is Dis al.[1]
Celliers het in 1874 met 'n ossewa na Pretoria getrek, waar sy vader, Jan F. Celliers oprigter en eerste redakteur van De Volksstem geword het. Hy studeer in Pretoria, Stellenbosch, Wellington en Delft (1887–1890). Daarna het hy as landmeter en later as staatsbibliotekaris in Pretoria (1894–1899) gewerk. Tydens die Anglo-Boereoorlog was hy op kommando en het hy 'n oorlogsdagboek gehou, wat later gepubliseer is. Ná die oorlog het hy saam met sy gesin na Europa verhuis, waar hy hom in die letterkunde verdiep het. In 1907 keer het hy en sy gesin na Suid-Afrika terug.[2]
Hy was die medestigter van Die Brandwag, wat bedoel was om Afrikaans as taal te bevorder. Hy was in hierdie tyd ook in die departement van binnelandse sake in Pretoria werksaam. Van 1918 tot met sy aftrede was hy professor aan die Universiteit van Stellenbosch. Ná sy aftrede vestig hy hom eers in Kaapstad, maar later op Harrismith in die Vrystaat.