Johannes Petrus Meyer (noemnaam Jan, Prins Albert, Kaapkolonie, 26 Junie 1842 – Johannesburg, 2 Desember 1919) was ’n staatsamptenaar, Volksraadslid, myneienaar en boer en die man na wie Meyerton en Meyersdal (Alberton) genoem is. Die voorstad Linmeyer is waarskynlik na sy skoondogter Lynne genoem.
Meyer het geen geringe aandeel aan die opsporing van die hoofrif op die Witwatersrand gehad nie. As veldkornet moes hy gedurig inspeksies doen en bakens oprig. Dit het hom die gulde geleentheid gebied om die geologiese strukture te bestudeer en waar te neem waar dagsome uitsteek. Baie van die vroeë opsporings van die hoofrif was te danke aan sy opmerksaamheid. Dit was op sy aanbeveling dat G.J. du Plessis die hoofrif op die plaas Turffontein opgespoor het. Hy was die stigter van Meyerskamp, later bekend as Natalkamp, en as mede-eienaar van die Meyer-en-Charltonmyn was hy een van die eerste Afrikaanse mynmagnate.
Hy het Johannesburg van 1887 tot 1892 in die Volksraad verteenwoordig as die eerste Volksraadslid vir Johannesburg. Sake waarvoor hy hom beywer het, was die verkryging van ’n munisipaliteit vir Johannesburg ('n saak wat wel gerealiseer het), die aanbou van die Delagoabaai-Pretoriaspoorweg deur Johannesburg, wat dui op die besef wat hy gehad het van die belangrikheid van Johannesburg as ’n mark vir plaaslike en ingevoerde landbouprodukte en die feit dat baie nywerheidsmateriaal deur Johannesburg benodig is. Hy het klaarblyklik besef die korter afstand na die hawe sou die mynmagnaat, handelaar, nyweraar asook die boere om Johannesburg bevoordeel. Derdens het hy ’n rol gespeel in die instelling van die Tweede Volksraad, wat die uitlanders se belange verteenwoordig het.