Java (eiland)

Java
Inheemse naam: Jawa / ꦗꦮ / ᮏᮝ
Topografiese kaart van Java
Topografiese kaart van Java
Geografie
Ligging Suidoos-Asië
Koördinate 7°29′S 110°00′O / 7.483°S 110.000°O / -7.483; 110.000
Argipel Groot Soenda-eilande

Oppervlakte 138 793,6 vk km
Hoogste punt Berg Semeru 3 676 m
Administrasie
Vlag van Indonesië Indonesië
Provinsies Bantam, Djakarta Spesiale hoofstadstreek, Wes-Java, Sentraal-Java, Oos-Java, Jogjakarta Spesiale streek

Hoofstad Djakarta
Grootste stad Djakarta (8 962 000)

Demografie
Bevolking 147 795 000

Bevolkingsgroepe Han-Chinese, Javane, Madoerese, Maleiers, Soendanese
Die wêreld se 13de grootste eiland

Java (Balinees en Indonesies: Jawa; Javaans: ꦗꦮ, Soendanees: ᮏᮝ), die wêreld se 13de grootste eiland, beslaan 'n oppervlakte van 138 793,6 km² en word begrens deur die oop Indiese Oseaan in die suide en die Javasee in die noorde. Java is die kleinste, maar mees bevolkte en mees suidelike van die vier Groot Soenda-eilande asook die vyfde grootste eiland van die eilandstaat Indonesië. Dit is in die ooste van Soematra, in die suide van Borneo en in die weste van die Klein-Soenda-eilande geleë. Die Javasee word in die weste deur die Soendastraat en in die ooste deur die Balistraat met die Indiese Oseaan verbind.

Nasa-Satellietbeeld van Java
Djakarta, Indonesië se hoofstad en grootste stad op Java
Verspreiding van tale op die eilande Java, Bali en Madoera in Indonesië

Java is met 'n bevolking van meer as 145 miljoen die mees bevolkte eiland en ook een van die digs bevolkte gebiede ter wêreld. Dit is die kleinste van die vier Groot Soenda-eilande, maar ook die belangrikste een. In Java se noordweste is Djakarta, Indonesië se hoofstad en grootste stad. In Augustus 2019 het die Indonesiese president Joko Widodo die plan aangekondig om die hoofstad van die "sinkende" Djakarta na 'n nuwe stad in die provinsie Oos-Kalimantan op Borneo te verskuif.[1]

Java se naam is moontlik afgelei van die Sanskrit-woord yava vir "gierst", 'n groep soortgelyke, dog verskillende grane wat 'n belangrike stapelvoedsel in Asië vorm.[2]

Java het 'n bevolking van sowat 145 miljoen, van wie die meeste Javane is, gevolg deur verwante etniese groepe soos Maleiers en Soendanese. Java se inheemse en mees gebruikte taal is Javaans,

hoewel dit in Indonesië nie 'n amptelike taal is nie; dit is Indonesies wat veral rondom die hoofstad Djakarta gebesig word. In die weste word veral Soendanees gepraat en in die ooste Madoerees en Balinees. Al dié tale behoort tot die Maleis-Polinesiese tale. Chinees is die moedertaal van die Han-Chinese wat hulle veral in onlangse dekades op Java kom vestig het. Java beskik oor 'n uiters diverse godsdienstige tradisie met Islam, Christendom, Hindoeïsme en Boeddhisme wat al sedert eeue beoefen word, die meerderheid inwoners is egter Moslems.

Java se geologie is gekenmerk deur baie aktiewe vulkane wat dié eiland van wes na oos gevorm het. Net wes van Java is Krakatoa geleë, veral bekend vir sy enorme uitbarsting in 1883. Java se vulkane behoort tot die Ring van Vuur wat die Stille Oseaan van Nieu-Seeland tot Chili omsirkel.

Die Javaanse kat is nie van Java of Indonesië afkomstig nie. Die naam is egter van die feit ontleen, dat dié kat van die Balinese kat (wat ook niks met Bali te doen het nie) afkomstig is en dus is 'n soortgelyke naam aan dié katras gegee. As gevolg van die voortgesette verstedeliking en ontbossing word Java se inheemse dierelewe ernstig bedreig; die Javaanse tier is al uitgestorwe en die Javaanse renoster is ernstig bedreig.

  1. "Indonesia to remove 'burden' from sinking Jakarta with new capital on Borneo". Sky News (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2020. Besoek op 12 Mei 2020.
  2. (en) Raffles, Thomas E. (1965). The History of Java. Oxford University Press. p. 3.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne