Johannes Hevelius, Duits: Johannes Hevel of Johann Hewelcke, Pools: Jan Heweliusz (Danzig, 28 Januarie 1611 – Danzig, 28 Januarie 1687) was 'n Duits-Poolse sterrekundige en burgemeester van Danzig (nou Gdańsk). Die sterrekundige Elisabeth Hevelius (gebore Koopman) was sy tweede vrou.[1]
Hevelius is gebore in Danzig, wat toe tot die Pools-Litouse Gemenebes behoort het, en studeer in Nederland (aan die Universiteit van Leiden), Engeland en Frankryk, maar woon vanaf 1634 weer in Danzig. Alhoewel hy aktief deelgeneem het aan die stadsregering van sy geboortestad en selfs burgemeester geword het, was sterrekunde sy grootste belangstelling. In 1641 bou hy sy eie sterrewag en vervaardig sy eie teleskoop.[1]
Hevelius publiseer die resultaat van sy 4-jarige kartografiese opname van die maan in 1647 onder die titel Selenographia sive Lunae Descriptio. Hy het ook die librasie van die maan ontdek.[2]
'n Aantal sterrebeelde wat vandag steeds in gebruik is, is deur hom benoem, waaronder die Jaghonde en Sekstant. Die Scutum Sobieski is ter ere van sy beskermheer, die Poolse koning Jan Sobieski, vernoem (Die "skild van Sobieski").[3]
Hevelius het met verskeie wetenskaplikes gekorrespondeer, soos Christiaan Huygens en Dirck Rembrantsz van Nierop.[3]
In 1679 verwoes 'n brand 'n groot deel van sy instrumente en boeke. Hoewel hy sy observatorium herbou het, kon Hevelius sy verlies nooit heeltemal te bowe kom nie. Hy sterf op sy 76ste verjaardag. Sy Prodromus astronomiae, 'n katalogus van 1564 sterre, is postuum gepubliseer.[3]