Johannes Poortermans

Piketberg met die dorp se mondigwording in 1857. Litografie deur Johannes Poortermans na aanleiding van sy eie skets. Iemand het "Tulbagh" links onder op die litografie geskryf, maar die ontwerp van die kerk stem ooreen met die ou NG kerk op Piketberg.

Johannes Cornelius Poortermans (Nederland, 1786 – Paarl, Kaapkolonie, 21 Augustus 1870) was ’n skilder en een van Suid-Afrika se vroegste litograwe. Hoewel dit as naïef en primitief beskryf word, is sy sketse en litografieë vol lewe en bied dit ’n waardevolle blik op die verlede.

Poortermans het van 24 Julie 1833 aan die Kaap gewoon. Hy het sy litografieë met die hand in waterverf ingekleur. In 1844 en ’45 het hy ’n maandelikse reeks van sy eie en ander Kaapse litograwe se werk gepubliseer. Versamelings van sy werk berus in die Africana-museum, Johannesburg, en in die Suid-Afrikaanse Biblioteek en Parlementêre Biblioteek in Kaapstad. Sy waterverfskilderye beeld plaastonele, gebeure tydens die Grensoorloë, die swart bevolking van die Kaapkolonie en Natal uit, die Swellendamse poskoets, Kaapse straattonele, plattelandse kerke en die eerste Groote Kerk (1836) in Kaapstad uit.

Poortermans was betrokke by ’n tabakwinkel en ander handelsake op Kalkbaai, in Nuweland, die Kaapse middestad en die Paarl, maar hy het lewenslank noustrop getrek.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne