Jotunheimen is die hoogste bergreeks van Noorweë en Skandinawië en lê sowat 350 kilometer noord van Oslo. Die naam, wat letterlik "Tuiste van die Reuse" beteken, is deur die Nordiese mitologie en die ongerepte landskap geïnspireer en in 1862 deur die Noorse digter en joernalis Aasmund Olavsson Vinje ingevoer. Jotunheimen is die hoogste gedeelte van die Skandinawiese bergreeks (of Skandes) en tussen die Sognefjord in die weste en Valdres in die ooste geleë. Jotunheimen maak in administratiewe opsig deel uit van die provinsies Sogn og Fjordane en Oppland en beslaan 'n oppervlakte van 3 500 vierkante kilometer.