Juha Kankkunen

Kankkunen in Helsinki in 2006

Juha Matti Pellervo Kankkunen (Finse uitspraak: [ˈjuhɑ ˈkɑŋkːunen]; gebore 2 April 1959) is 'n Finse voormalige tydrenjaer. Sy fabriekspanloopbaan in die Wêreldtydrenkampioenskap het van 1983 tot 2002 gestrek. Hy het 23 wêreldtydrenne en vier wêreldkampioenskaptitels gewen, wat albei op daardie stadium rekords was. Beide Sébastien Loeb en Sébastien Ogier het sedertdien meer wêreldtitels ingepalm, maar geen jaer kon Kankkunen se prestasie herhaal om ’n wêreldkampioen te word met drie verskillende vervaardigers se motors, totdat Ogier dié prestasie in 2020 geëwenaar het nie.

Kankkunen is in 1983 deur die Toyota-span Europa gehuur en hy het sy eerste WRC-oorwinning in sy derde jaar in die span behaal. Sy vertonings het hom 'n ooreenkoms met die verdedigende kampioen Peugeot vir 1986 besorg, en Kankkunen is gou as die jongste kampioen ooit in die reeks gekroon. Soos Peugeot hom aan die kampioenskap onttrek het ná die verbod van Groep B, het Kankkunen na Lancia geskuif en die eerste jaer geword wat sy titel suksesvol verdedig het. Na 'n verdere twee jaar by Toyota het hy na Lancia teruggekeer en 'n rekord derde titel in 1991 gewen.

Kankkunen in 'n Hyundai Accent WRC tydens die 2001 Tydren Finland.

In 1993 het Kankkunen hom weer by Toyota aangesluit en sy vierde titel gewen. Na Toyota se diskwalifikasie en 12-maande-verbod in 1995, het Kankkunen nie teruggekeer na aktiewe deelname aan die reeks totdat hy halfpad deur die 1997-seisoen by die Ford World Rally Team aangesluit het en 'n onderpresterende Armin Schwarz vervang het nie. Nadat hy vir 1999 na Subaru verhuis het, het hy sy eerste oorwinning in meer as vyf jaar in 'n Subaru WRX behaal. Voordat hy ná die 2002-seisoen uitgetree het, het hy deeltyds vir Hyundai meegeding.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne