Julie Andrews | |
Julie Andrews
| |
Geboortenaam | Julia Elizabeth Wells |
---|---|
Geboorte | 1 Oktober 1935 Walton-on-Thames, Surrey, Engeland |
Nasionaliteit | Brits |
Beroep(e) | Aktrise, sanger |
Aktiewe jare | 1964–nou |
Toekennings | Orde van die Britse Ryk |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Dame Julie Andrews (geb. 1 Oktober 1935)[1] is 'n Britse sanger, aktrise en skrywer van kinderboeke. Andrews was in talle rolprente te sien, maar is veral bekend vir haar vertolkings in Mary Poppins (1964) en The Sound of Music (1965).[2] Sy is in 2000 tot Dame Kommandeur in die Orde van die Britse Ryk (DBE) benoem.
Andrews se ouers, Barbara Ward Wells en Edward Charles (Ted) Wells, is aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog geskei. Sy en haar broer John bly eers by hulle pa in Surrey. In ongeveer 1940 het Andrews by haar ma ingetrek, omdat haar pa gedink het dat sy beter opleiding vir haar artistieke loopbaan daar kon kry.
Op negentienjarige ouderdom begin sy haar Broadway-loopbaan, en ná haar eerste film, Mary Poppins, het sy die wêreld aan haar voete gehad. Suksesse soos The Sound of Music en Victor Victoria volg, sowel as haar eie TV-reeks en kinderboeke, soos The Last of The Really Great Whangdoodles. Sy het die kinderboek-reeks, Dumpy the Dumptruck, saam met haar dogter Emma geskryf.
Sy was met die Pink Panther-regisseur Blake Edwards getroud tot sy dood op 15 Desember 2010, ná 'n eerste huwelik met tekenaar en kostuumontwerper Tony Walton. Sy het een dogter, Emma (Kate), by Walton. Sy het daarnaas tot die opvoeding van Edwards se kinders (Jennifer en Geoffrey) bygedra, sowel as twee aangenome Viëtnamese meisies, Amy en Joanna Edwards, grootgemaak.
In 1997 kry sy groeisels op haar stembande en sy verloor haar sangstem na 'n onsuksesvolle operasie. Sy kon darem nog praat, en kan op die klankbane van films soos Shrek 2, Shrek the Third en The Princess Diaries gehoor word.
Op 28 Januarie 2007 ontvang sy 'n Screen Actors Guild Award vir haar oeuvre. Sy is as nommer 59 op die lys van 100 grootste Britte van alle tye gelys.[3]