Die Kaap Agulhas-vuurtoring is 'n vuurtoring by Kaap Agulhas, die suidelikste punt in Afrika.
Die 27 meter hoë ronde toring is wit geverf met rooi strepe. Dit is op 1 Maart 1849 in gebruik geneem en is gebou volgens die model van die Pharos van Alexandrië, een van die sewe klassieke wonders van die wêreld. Daar is in 1840 in Kaapstad begin met die insameling van geld vir die bou van 'n vuurtoring by Kaap Agulhas. Bydraes deur die publiek en owerhede is aangevul met bydraes uit Kalkutta, Bombaai, Madras, Manila, Sint Helena en Londen. Michiel van Breda, na wie die nabygeleë Bredasdorp vernoem is en wat die plaas Zoetendalsvlei besit het, het ingestem om soveel grond as wat nodig sou wees, te skenk om die vuurtoring te bou. In 'n toespraak in Kaapstad het hy verwys na die Arniston-skeepsramp van 30 Mei 1815 waarin slegs ses van die 378 mense aan boord oorleef het.
Bouwerk het op 1 April 1847 begin en is teen Desember 1848 voltooi. Lig is aanvanklik verskaf uit vet uit skaapsterte. In 1905 is die vetlamp vervang met 'n olielamp wat in 1914 opgegradeer is na 'n roterende stelsel wat 470 000 kerskrag gelewer het. In 1936 is 'n elektriese lig geïnstalleer van 12 000 000 kerskrag. In 1962 het die sandsteen waaruit die toring gebou is, begin ingee en in 1968 is 'n tydelike aluminiumtoring naby die hoofvuurtoring opgerig.
Die toring is in 1973 tot Nasionale Monument verklaar. Nadat dit teen 1988 herstel is, is die lig van die tydelike toring by die nuwe Groenriviermond-vuurtoring gebruik.[3] Op 28 Januarie 1994 is 'n museum by die vuurtoring amptelik geopen. [4][5]
Kaap Agulhas Toerisme se statistiek toon 8 673 besoekers in die eerste maand sedert die heropening in 2013. In 2013 het 40 000 besoekers die mees suidelike punt van Afrika besoek, wat drie keer meer is as in 2012.[1]