Kenia | |
---|---|
Ligging | ![]() |
Hoogte | 5 199[1] meter bo seevlak |
Koördinate | 0°9′3″S 37°18′27″O / 0.15083°S 37.30750°O |
Bergtipe | Stratovulkaan |
Eerste bestyging | 1899 |
Eerste bestyger(s) | Halford Mackinder |
Maklikste roete | Rotsklim |
Die berg Kenia (Masai: Kirinyaga en Kinyaa, "Swart-en-wit berg") is die hoogste berg in die Oos-Afrikaanse land Kenia en die tweede hoogste in Afrika, na Kilimandjaro in Tanzanië. Die hoogste pieke van die berg is Batian (5 199 meter), Nelion (5 188 meter) en Punt Lenana (4 985 meter). Kenia is geleë in die voormalige provinsies Oos- en Sentraal-Kenia, nou Meru, Embu, Laikipia, Kirinyaga, Nyeri en Tharaka Nithi, ongeveer 16,5 km suid van die ewenaar en ongeveer 150 km noord-noordoos van die hoofstad Nairobi. Die Republiek Kenia het sy naam te danke aan die berg.
Die berg Kenia is 'n stratovulkaan wat ongeveer drie miljoen jaar na die vorming van die Oos-Afrikaanse Skeur ontstaan het.[2] Voor gletservorming was dit 7 000 meter hoog. Dit is duisende jaar lank deur 'n yslaag bedek, wat gelei het tot baie geërodeerde hellings en talle valleie wat vanaf die sentrum uitstraal. Daar is tans elf klein gletsers wat vinnig krimp en moontlik teen 2050 vir ewig weg sal wees. Die beboste hellings is 'n belangrike bron van water vir 'n groot deel van Kenia.
Daar is verskillende plantegroei van die basis tot by die piek. Die onderste hellings word deur verskillende soorte bosplante bedek. Baie Alpynse spesies is endemies aan die berg Kenia, soos die reuse lobelias en senecios en 'n plaaslike subspesie van rotsdassie. 'n Oppervlakte van 715 vierkante meter om die middel van die berg is as 'n nasionale park aangewys en in 1997 deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.[3] Die park ontvang meer as 16 000 besoekers per jaar.[4][5]