Kenneth Ray Rogers (21 Augustus 1938 – 20 Maart 2020) was 'n Amerikaanse sanger, liedjieskrywer, akteur, platevervaardiger, en entrepreneur. Hy was 'n lid van die Country Music Hall of Fame. Alhoewel hy die suksesvolste was met country-gehore, was hy vir meer as 120 treffers in verskeie genres verantwoordelik. Sy albums was vir 'n totaal van meer as 200 weke bo-aan die country- en popalbumtrefferlyste in die Verenigde State en hy het wêreldwyd meer as 100 miljoen plate verkoop, wat hom een van die musikale kunstenaars met die meeste verkope in die geskiedenis maak.