Die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (Engels: The Church of Jesus Christ of Latter-day Saints) is 'n nie-trinitariese restourasionistiese kerk wat op 6 April 1830 in Lafayette in die Amerikaanse deelstaat New York deur Joseph Smith gestig is. Die Kerk se huidige wêreldhoofkwartier is in Salt Lake City in Utah gesetel, met Russell M. Nelson as sy Profeet en President.
Die Kerk verskil van Protestantse denominasies deur 'n aantal afwykende geloofsoortuigings en sy aanspraak op gesag as die Ware Kerk, herstel volgens die voorbeeld van die antieke Christelike Oerkerk deur goddelike openbaring aan Joseph Smith gedurende die tweede sogenaamde Great Awakening in die Vereniging State - 'n tydperk tussen 1795 en 1830 wat deur 'n Protestantse herlewing gekenmerk is.[1] Die verwysing na die Laaste Dae weerspieël die oortuiging dat die laaste fase van die Verlossingstydperk met die vestiging van die Kerk aangebreek het, maar beteken nie noodwendig dat die wederkoms van Jesus Christus in die nabye toekoms verwag word nie.
Persoonlike geloofservaring, insluitende die oortuiging dat Joseph Smith as profeet en siener, in antwoord op sy gebede, deur Goddelike openbaring en visies die nodige leidraad ontvang het om die oorspronklike Kerk van Jesus Christus op aarde te herstel ('n sentrale oortuiging van restourasionistiese kerke) en dat Jesus Christus ná sy hemelvaart 'n besoek aan die Nuwe Wêreld gebring het, staan net soos 'n gelukkige gesinslewe en internasionale sendingwerk sentraal in die religieuse en sosiale lewe van Kerklidmate, net soos die oortuiging dat die gemeenskap die Oerkerk se priesterskap herstel het. Heiliges van die Laaste Dae verwys sodoende na die eenvoudige apostoliese orde van die vroeë Christendom wat bestaan het voor die vestiging van kerkstrukture in die 2de en 3de eeu n.C. wat uiteindelik tot die vestiging van die Rooms-Katolieke Kerk as Christelike hoofliggaam sou lei.[2]
Die Kerk is die grootste van die kerkgemeenskappe wat die Boek van Mormon as heilige skrif erken en as getuienis oor Jesus Christus as die Seun van God erken. In Engels word die beweging Latter Day Saint movement genoem. Nadat sy ledetal in die laat 1940's vir die eerste keer die eenmiljoenkerf oorskry het, het dit intussen tot die vierde grootste geloofsgemeenskap in die Verenigde State gegroei wat met sy meer as 6,5 miljoen lidmate rofweg twee persent van die Amerikaanse bevolking verteenwoordig. Weens die sterk groei buite die VSA word na die Kerk soms as 'n opkomende wêreldgodsdiens verwys.
In die deelstaat Utah en groot dele van Suid-Idaho is 'n meerderheid van die bevolking lidmate van die Kerk; tradisioneel verwys hulle na alle ander gebiede (met hoër persentasies bekeerdes) as mission field.[3] Wêreldwyd is daar 16,6 miljoen lidmate. In Suid-Afrika was daar in 2019 volgens die Kerk se statistieke 68 772 merendeels Engelssprekende lidmate in 193 gemeentes. In Namibië was daar 952 kerklidmate in vier gemeentes. Die eerste LDS-sendelinge het in April 1853 aan die Kaap aangekom, en nog in Augustus van dieselfde jaar is die eerste gemeente sowat vier myl buite Kaapstad gevestig.[4] Tans is daar twee tempels in die land - een elk in Johannesburg en Durban.
Die Anglikaanse, Katolieke en Protestantse Kerke bevraagteken die Christelike karakter van die Kerk as gevolg van besondere verskille in doktrine, byvoorbeeld die geloof dat leier van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae 'n lewende profeet en die opvolger van Jesus Christus is.[5]
Saam met ander geloofsgemeenskappe, soos die liberale Community of Christ en kleiner splintergroepe, wat naas die Bybel ook die Boek van Mormon as 'n heilige skrif aanvaar, word na hierdie denominasie ook as Mormone of Mormoonse Kerk verwys. Alhoewel die term deur lidmate nie noodsaaklik as beledigend beskou word nie, word besoekers van streke met 'n meerderheid lidmate soos Utah en die suide van Idaho aangeraai om liewer die Engelse benaming Latter-day Saints te gebruik. In hul onderlinge kommunikasie gebruik Kerklidmate terme soos Saints; Amerikaanse media verwys na LDS (wanneer Kerklede bedoel word) of die LDS Church (vir die Kerk in sy geheel).