Kleefmiddels word in die spreektaal soms gom of lym genoem en die hooffunksie daarvan is om afsonderlike oppervlakke aanmekaar te heg sodat dit 'n eenheid vorm. Die gom dring gewoonlik die meeste holtes en spasies binne en dien as vuller wanneer dit hard word. In die bekendste vorm is dit 'n taai, klewerige pasta wat tydens bewerking vloeibaar, opgelos of gesmelt is, waarna dit stol en hard word. In die nywerheid is gom onontbeerlik vir die duisende toepassings waardeur verskillende materiale aanmekaargeheg word sonder om van meganiese klampmetodes of hoë temperature (sweis) gebruik te maak.