'n Koesister is 'n tradisionele Kaaps-Maleise oliebol met 'n klapperbuitelaag wat met speserye gegeur is.[1]
Die eerste wêreldkoesisterdag is op Sondag, 1 September 2019 gevier tydens 'n geleentheid wat gehou is by die Radisson RED Hotel V&A Waterfront, Kaapstad, Suid-Afrika; in vennootskap met Vannie Kaap. Wêreldkoesisterdag word gevier op die eerste Sondag in September.
Koesisters word berei deur deeg met meel, suiker en gis aan te maak en dan met speserye soos kaneel, anys, gemmer, kardamom en gedroogde nartjieskil gegeur. Die bolletjies word in olie vlakgebraai, afgekoel, verder in kokende suikerstroop gebraai en dan in klapper gerol.[2]
Die voorbereiding daarvan is van Maleisiese/Indonesiese oorsprong, met moontlike Indiese invloede. Dit is oorspronklik geëet as 'n onversoete ontbytversnapering, wat saam met Maleise slawe na Suid-Afrika gebring is,[3] en het op daardie tydstip bekendgestaan as koe'sisters, wat klaarblyklik verwys het na 'n beleefde skindery onder oujongnooie. Die koesister moet nie verwar word met die soortgelyke koeksister nie.[4]