Die Kolonisasie van Ulster (Engels: Plantation of Ulster, Iers: Plandáil Uladh; Ulster-Skots: Plantin o Ulstèr) was die georganiseerde Skotse en Engelse volksplanting in Ulster, een van die vier historiese provinsies van Ierland. Privaat kolonisasie deur welvarende landeienaars het al in 1606 begin, terwyl die amptelike volksplanting, wat deur die Parlement van Skotland beheer is, sy aanvang twee jaar later geneem het. So was daar twee kolonisasieprojekte:
Alle grond, wat in besit van Ierse hoofde van die Uí Néill- (O'Neill-) en Uí Domhnaill- (O'Donnell-)dinastieë was, is saam met dié van hul ondersteuners onteien om daarop Skotse setlaars te vestig. Altesaam 'n halfmiljoen akkers of 2 000 km² se grond in die graafskappe Tyrconnell (Donegal), Tyrone, Fermanagh. Cavan, Coleraine en Armagh is gekonfiskeer. Die grootste deel van die graafskappe Antrim en Down is privaat gekoloniseer.
Van Britse "pagters" of tenants, soos hulle destyds genoem is, het merendeels uit Skotland en Engeland gekom. Van hulle is vereis dat hulle Engelssprekend en van Protestantse geloof was. Die meeste Skotse setlaars was Presbiterianers, terwyl Engelse koloniste meestal aanhangers van die Kerk van Engeland was. Die kolonisasie van Ulster was die grootste van alle Britse volksplantings in Ierland. Ulster is veral gekoloniseer om verdere opstande te voorkom aangesien hierdie landsdeel in die vorige eeu die meeste weerstand teen die Engelse bewind gebied het.