Die Koninklike Nieu-Seelandse Lugmag (afgekort RNZAF) (Māori: Te Hokowhitu o Kahurangi "The Warriors of the Sky of New Zealand"; voorheen "War Party of the Blue")[1] is die lugdienstak van Nieu-Seeland se weermag. Dit is gevorm uit Nieu-Seelandse elemente van die Koninklike Britse Lugmag en het in 1923 'n onafhanklike mag geword, hoewel baie RNZAF-lugbemanningslede steeds in die Koninklike Britse Lugmag gedien het tot die einde van die 1940's.
Die RNZAF het in die Tweede Wêreldoorlog, Malaya, Korea-oorlog, Viëtnamoorlog en die Golfoorlog geveg, asook verskeie VN-vredesmissies onderneem. Vanaf 'n hoogtepunt in 1945 van meer as 1 000 gevegsvliegtuie het die RNZAF gekrimp tot 'n sterkte van ongeveer 48 vliegtuie in 2022, met die fokus op maritieme patrollie- en vervoerpligte ter ondersteuning van die Koninklike Nieu-Seelandse Vloot en die Nieu-Seelandse Leër. Die RNZAF se luggevegvermoë het in 2001 geëindig, onder die Vyfde Arbeidsregering met die ontbinding van die A-4 Skyhawk- en Aermacchi MB-339-gebaseerde eskaders.
Die Lugmag word gelei deur 'n Lugvisemaarskalk wat die aanstelling van "Hoof van die Lugmag" beklee. Die RNZAF-leuse is dieselfde as dié van die Britse Lugmag (Royal Air Force), Per ardua ad astra, wat beteken "Deur ontbering na die sterre".[2]