Kreutz-sonskeerder

Charles Piazzi Smyth: The Great Comet of 1843.

Die Kreutz-sonskeerders is ’n familie komete wat baie na aan die Son verbybeweeg tydens hul perihelium. Hulle is vermoedelik fragmente van een groot komeet wat verskeie eeue gelede opgebreek het en is genoem na die Duitse sterrekundige Heinrich Kreutz, wat eerste aangedui het dat hulle verwant is.[1]

'n Kreutz-sonskeerder se afelium (verste punt van die Son af) is sowat 170 AE. Hulle kom uit 'n verafgeleë deel van die Sonnestelsel in die sterrebeeld Groot Hond na die binneste Sonnestelsel, maak 'n nabydraai om die Son en keer dan terug na hulle afelium.

Verskeie lede van die Kreutz-groep het Groot Komete geword; sommige was in daglig naby die Son sigbaar. Die mees onlangse een was Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat moontlik een van die helderste komete in die laaste 1 000 jaar was.[1] Daar is al berig dat nog ’n groep helder Kreutz-sonskeerders binne die volgende paar jaar tot paar dekades in die binneste Sonnestelsel sal verskyn.[2]

Meer as 4 000 kleiner lede van die familie van net ’n paar meter breed is al ontdek sedert die lansering van die SOHO-satelliet in 1995.[3] Nie een van hierdie kleiner komete het hulle perihelium oorleef nie. Groter sonskeerders, soos die Groot Komeet van 1843 en C/2011 W3 (Lovejoy), het dit wel oorleef.

  1. 1,0 1,1 Sekanina, Zdeněk; Chodas, Paul W. (2004). "Fragmentation hierarchy of bright sungrazing comets and the birth and orbital evolution of the kreutz system. I. Two-superfragment model". The Astrophysical Journal. 607 (1): 620–639. Bibcode:2004ApJ...607..620S. doi:10.1086/383466.
  2. Sekanina, Zdeněk; Chodas, Paul W. (2007). "Fragmentation Hierarchy of Bright Sungrazing Comets and the Birth and Orbital Evolution of the Kreutz System. II. The Case for Cascading Fragmentation". The Astrophysical Journal. 663 (1): 657–676. Bibcode:2007ApJ...663..657S. doi:10.1086/517490.
  3. Frazier, Sarah (16 Junie 2020). "4,000th Comet Discovered by ESA & NASA Solar Observatory". NASA. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Junie 2020. Besoek op 14 Julie 2020.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne