Langlaagte is een van die plase waarop die Witwatersrand aangelê is, maar dis veral van belang omdat dit hier was dat Suid-Afrika se goudmynbedryf begin het met die ontdekking deur die Australiese myner George Harrison van die gouddraende konglomeraat, wat daarna geblyk het die hoofrif van die Witwatersrand te wees.
Langlaagte is ook die naam van ’n voorstad 5 km wes van die stadsaal. In die middel van die 20ste eeu was dit 'n oorwegend Afrikaanssprekende gebied. In 1934 was hier byvoorbeeld net 26 Afrikaanssprekende munisipale kiesers, maar 333 Engelssprekend. Teen 1949 het die Afrikaanse kiesers toegeneem tot 584 en die Engelse afgeneem tot 201. Teen 1961 was die getalle 742 Afrikaans en 288 Engeks. Die aanliggende Paarlshoop was selfs meer oorwegend Afrikaans, want teen 1961 was net 29 van die kiesers Engelssprekend, maar 461 Afrikaanssprekend.
Vir sensusdoeleindes word die voorstad Langlaagte saam met Paarlshoop gegroepeer onder daardie voorstad se naam. Langlaagte-Noord word wel afsonderlik erken. Die voorstad Langlaagte is noordwes van Booysens Reserve en oos van Industria en Riverlea. In die ooste grens Langlaagte aan Paarlshoop en Homestead Park, wat op sy beurt grens aan Mayfair, wat in 1896 op die plaas aangelê is. Benewens dié voorstede is Crosby deels op Langlaagte aangelê en deels op die plaas Middelfontein. Die plase waaraan Langlaagte gegrens het, was in die noordweste Waterval, in die noorde Middelfontein en Braamfontein, in die ooste Turffontein, in die suide Mooifontein en in die ooste Klein-Paardekraal.
Die hoofrif strek van Randfontein in die weste tot by Springs in die ooste met Langlaagte min of meer in die middel. Al die gouddorpe en -stede lê op dié lyn.
Langlaagte was ook die naam van die kinderhuis wat ds. Abraham Kriel van die NG gemeente Langlaagte ná die Tweede Vryheidsoorlog vir die versorging van oorlogswese begin het, maar dit is later ter nagedagtenis aan hom tot die Abraham Kriel-kinderhuis herdoop. Die kampus is in Maraisstraat, Paarlshoop, oorkant die gewese NG kerk.