Laterale denke is 'n manier van dink wat deur Edward De Bono verwoord is. Die tegniek is gebore uit sy teorie rondom die werking van die mens se brein en selforganiserende stelsels. Volgens hierdie teorie werk 'n mens se brein baie soos 'n landskap met 'n rivier wat daaroor vloei. Patrone raak gevestig (net soos 'n rivier se loop) en hoewel dit 'n mens se brein in staat stel om blitsvinnig te reageer op patrone wat reeds gevestig is (oorweeg as voorbeeld al die besluite wat 'n tennisspeler binne 'n fraksie van 'n sekonde moet neem), is dit geneig om 'n mens te kortwiek in die ontwikkeling van nuwe idees. Sy tegnieke is daarop gemik om hierdie spreekwoordelike rivier te forseer om sy normale loop te verlaat en oor nuwe terreine te laat beweeg. Om dit te bewerkstellig gebruik hy tegnieke wat daarop gemik is om provokasie tot die normale gedagtevloei in te voer. Sy tegnieke fokus sterk op die menslike persepsie (wat basies maar die gevestigde denkpatroon is wat deur die jare aangeleer is).