F-35 Lightning II | |
---|---|
Tipe | Multirol-aanvalsvliegtuig |
Vervaardiger | Lockheed Martin (Skunk Works) en ander vennote |
Ontwerp deur | Lockheed Martin |
Nooiensvlug | 15 Desember 2006 |
Status | In produksie |
Hoofgebruikers | Amerikaanse Lugmag Amerikaanse Marinierskorps Amerikaanse Vloot |
Vervaardig | 2006–tans |
Aantal gebou | 1000 teen 1 Januarie 2024[1][2] |
Programkoste | VS$1196,4 miljard (geprojekteer oor 55 jaar)[3] |
Eenheidskoste | F-35A: VS$77,9 miljoen[1] F-35B: VS$101,3 miljoen[1] F-35C: VS$94,4 miljoen[1] |
Ontwikkel van | Lockheed Martin X-35 |
Die Lockheed Martin F-35 Lightning II is 'n familie van enkelsitplek, enkelmotorige, multirol-alleweer sluipvegvliegtuie. Die vyfde generasie vegvliegtuig is ontwerp om grondaanval-, verkennings-, en lugverdedigingsmissies uit te voer. Die F-35 het drie hoofmodelle: die F-35A konvensionele opstyg en landing (CTOL) variant, die F-35B kortopstyg en vertikale-landing (STOVL) variant, en die F-35C vliegdekskip-gebaseerde (CATOBAR) variant.
Die F-35 is afstammelinge van die X-35, wat die wenontwerp was van die "Joint Strike Fighter" (JSF)-program. Dit is ontwerp en word gebou deur 'n lugvaartnywerheidspan gelei deur Lockheed Martin. Ander groot F-35 vennote in die industrie sluit in Northrop Grumman, Pratt & Whitney en BAE Systems. Die F-35 het sy nooiensvlug op 15 Desember 2006 gevlieg. Die Verenigde State van Amerika beplan om 2456 vliegtuie tot 2044 aan te koop. Die F-35 variante is bedoel om die grootste deel van sy bemande taktiese lugslaankrag vir die Amerikaanse Lugmag, Marinierskorps en Vloot te verskaf oor die komende dekades. Aflewerings van die F-35 vir die Amerikaanse militêre takke is geskeduleer om teen 2037 voltooi te wees. Daar word projekteer dat die F-35 se dienslewe tot 2070 sal strek.[4]
F-35 JSF "Joint Strike Fighter" ontwikkeling word hoofsaaklik befonds deur die Verenigde State met bykomende befondsing van sy vennote. Die vennootnasies is NAVO-lede of Amerikaanse bondgenote. Die Verenigde Koninkryk, Italië, Australië, Kanada, Noorweë, Denemarke, Nederland en voorheen Turkye is deel van die aktiewe ontwikkelingsprogram.[5][6] Verskeie ander lande het bestellings geplaas, of oorweeg bestellings, vir die F-35.